
Kol. Donald Mdhluli, polisiewoordvoerder, sê ’n saak van moord word ondersoek nadat op Vrydag 23 September op die 52-jarige Swart se lyk op die plaas Mayhem net buite Emgwenya (Waterval-Boven) afgekom is.
Hy sê Swart se broer, wie se naam nie bekend is nie en aan wie die plaas behoort, woon ’n paar kilometer van die plaas af en het bekommerd geraak toe hy sedert Donderdag 22 September nie sy broer in die hande kon kry nie. Hy het die plaas Vrydag besoek. Hy het sy broer se lewelose liggaam buite die plaashuis gevind. Die huis het blykbaar oopgestaan.
Die broer het toe die polisie en nooddienste na die toneel ontbied. Swart is op die toneel dood verklaar. ’n Saak van moord is geregistreer nadat die polisie opgemerk het dat sy bene met ’n gordel vasgebind was.
Voorlopige ondersoeke het bevind dat Swart steekwonde in sy rug en maag gehad het. Hy is ook vermoedelik in die gesig geslaan. ‘n Klag van roof word ook ondersoek aangesien Swart se Nissan 1400-bakkie gesteel is.
Enigiemand met nuttige inligting word versoek om die Waterval Boven-polisiekantoor, speur-adj.-off. Raymond Mamaila by 072 023 1542 of Crime Stop by 08600 10111 kontak.
Prioritiseer samewerking
Die VF Plus het ’n versoek tot die plaaslike LUR vir gemeenskapsveiligheid, mnr. Vusi Shongwe, gerig om samewerking tussen die polisie en landelike gemeenskappe te prioritiseer. “Dit is broodnodig dat owerhede direk met die plaasgemeenskappe saamwerk, veral aangesien hierdie slagoffers gewoonlik afgesonder leef.”
Die party het ook versoek dat nabygeleë polisiekantore die plase in hul omgewing moet patrolleer, nie net om sigbare polisiëring toe te pas nie, maar ook om gereeld by plaaseienaars besoek af te lê. “Landelike veiligheid is heel boaan die party se prioriteitslys van veiligheidskwessies en die party is bereid om met plaaslike owerhede saam te werk om seker te maak dat landelike gemeenskappe beveilig word.
“Die VF Plus se meegevoel gaan uit na die oorledene se naasbestaandes in hierdie moeilike tyd. Die party sal daarna streef om toe te sien dat sy dood nie sonder gevolg sal wees nie.”