
Canyon Coal, ’n mynmaatskappy wat hom toelê op eksplorasiewerk en die myn en verwerking van steenkool, het pas aangekondig dat hy ’n nuwe steenkoolmyn, Gugulethu, naby Hendrina in Mpumalanga bou.
Die eerste fase van die mynbouprojek van R1,4 miljard sal binne die volgende 8-10 maande afgehandel wees, sê die maatskappy in ’n verklaring. Sodra hierdie fase voltooi is, sal die myn sowat 1,2 miljoen ton steenkool per jaar lewer.
Me. Jarmi Steyn, bestuurder van Gugulethu, sê die siviele werk sal binnekort begin. Die myntoerusting word reeds afgelewer en produksie sal waarskynlik in die tweede helfte van die jaar begin.
Die myn, waarvoor reeds ’n mynlisensie toegeken is, lê suidoos van Hendrina en sal luidens Canyon Coal se verklaring 430 mense in diens neem. Dit het ’n steenkoolreserwe in die oopgroefgedeelte wat dit vir 20 jaar lewensvatbaar sal maak.
’n Tweede fase sal die ontwikkeling van ’n ondergrondse myn behels, wat die maatskappy hoop om teen 2028 op dreef te hê. Teen daardie tyd sal die oopgroef myn 2,4 miljoen ton steenkool per jaar lewer en die ondergrondse myn ’n verdere 2,4 miljoen ton.
Die steenkool sal vir die uitvoermark bestem wees, sê Canyon Coal. Die steenkool sal padlangs vervoer word na die Rietkuil-taklyn, vanwaar dit as spoorvrag na die Richardsbaai-steenkoolterminaal vervoer sal word vir uitvoer.
Steyn sê haar eerste doel is om te sien dat Gugulethu-steenkoolmyn veilig, op skedule en binne die begroting ontwikkel word. Daarna wil sy toesien dat dit ’n baken van regulatoriese voldoening en produksieprestasie vir Canyon Coal word.
Die nuuswebwerf Moneyweb skryf die hernieude energie waarmee steenkoolprojekte nou aangepak word aan die internasionale energiekrisis toe. Steenkoolmaatskappye slaan munt daaruit ondanks die klimaatkrisis waarin die wêreld hom bevind.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.