
Sowetan Live het verlede week berig oor me. Nqobile Motsweni het tydens ’n presidensiële imbixo op Carolina teenoor pres. Cyril Ramaphosa beweer het dat ’n wit boer haar voorouerlike grond in 2002 gesteel en dit in ’n dieretuin omskep het. Nou word sy en haar familie glo gedwing om die grond met die diere te deel.
Mpumalanga Landbou sê luidens ’n verklaring dat hy kennis geneem het van die berig wat benewens die beweerde gronddiefstal ook verwys na die konfiskering van lewende hawe, intimidasie en die gebrek aan optrede deur wetstoepassingsagentskappe in verband met die aantygings.
“As ’n verteenwoordigende organisasie van die landbousektor beskou Mpumalanga Landbou hierdie aantygings in ’n ernstige lig. Volhoubare landbouproduksie is moeilik en verg vreedsame verhoudinge tussen die onderskeie belanghebbendes. Daar is nie plek vir beledigende en onwettige optrede nie. Ons kan nie goedpraat wat nie goedgepraat kan word nie.
“Ons plaas graag op rekord dat produksie-eenhede in die landbousektor, soos ander besighede, onderhewig is aan wetgewing en gepaardgaande inspeksies. Daarmee saam word toegang tot markte, vir talle produsente, bepaal deur die handhawing van etiese besigheidsbeginsels en hoë arbeidstandaarde.
“Mpumalanga Landbou ondersteun daarom enige ondersoek na die geldigheid van hierdie aantygings en is gereed om te help waar moontlik. Ons waarsku egter sterk teen oorhaastige gevolgtrekkings voordat alle besonderhede rakende die aantygings bevestig is. Dit is van uiterste belang dat die openbare debat en enige optrede gegrond word op bevestigde feite.
“Mpumalanga Landbou ondersteun die uitroei van mishandeling. Dit is egter ewe belangrik dat sodanige beweringe behoorlik ondersoek moet word. Onverantwoordelike en onregverdige beweringe en oordele belemmer opbouende samewerking in die hantering van gemeenskaplike kwessies in die sektor.”