
’n Toename in voorvalle van mense wat skerp voorwerpe op paaie gooi om mense te dwing om weens pap bande stil te hou, is nie net ’n risiko vir die landbousektor in die Nkomazi-munisipaliteit nie, maar die landbousektor in geheel, sê mnr. Robert Davel, uitvoerende hoof van Mpumalanga Landbou.
Luidens ’n gesamentlike verklaring deur die Komatipoort- en Malelane-gemeenskapspolisiëringsforums neem sulke voorvalle tans veral toe aan die Hectorspruit kant van die N4, vanaf Impala tot Kompatipoort, en in die omgewing van die Lebombo-grenspos.
Luidens die verklaring is verskeie georganiseerde groepe saans aktief op die betrokke gedeelte van die N4. Mense word daarom gewaarsku dat dié stuk pad eerder saans vermy moet word.
Davel sê die landbousektor kan nie hierdie waarskuwing ignoreer nie. “Hierdie nuwe neiging onder misdadigers plaas bykomende druk op produsente, hul werkers en families asook die landbousektor, veral wat dienslewering aan die primêre sektor betref.
“Om doeltreffend te wees, moet primêre produsente en besighede in die sekondêre sektor werk van voordat die son opkom tot nadat dit ondergaan het.
Weens verskeie veiligheidsrisikos het die sektor reeds miljoene op die nodige maatreëls bestee net om ons deure oop te hou. Dié nuwe neiging sal die sektor dwing om bykomende koste op voorkomende maatreëls aan te gaan as hulle in besigheid wil bly. Al hierdie bykomende koste plaas die volhoubaarheid van die sektor in die spervuur.”