‘n Groot aantal van die trekkers wat pres. Jacob Zuma vroeër vanjaar aan opkomende boere in Mpumalanga geskenk het, staan tans ongebruik in wind en weer.
Luidens ‘n berig op Nuus24.com was die skenking van 85 trekkers ‘n deel van die Regering se masibuyele emasimini-projek.
Aanvanklik is die projek met vyf maande vertraag weens sloerdery met die uitreiking van voertuiglisensies, omdat die provinsiale landboudepartement nie die nodige fondse daarvoor gehad het nie. Volgens die berig het me. Janine Julies, die departement se woordvoerder, in Oktober vanjaar gesê die lisensiëringsproses is voltooi.
Die trekkers staan egter steeds by die departement se streekkantore.
Boere kla
Luidens die berig kla die boere tans aangesien ‘n klomp trekkers in onbruik staan en omdat hulle nie weet hoe om die trekkers te gebruik nie.
“Drywers van die Regering moet nou die trekkers hanteer,” sê ‘n onbekende kleinboer van KwaMhlanga. “Om sake te vererger is daar nie genoeg óf die korrekte implemente beskikbaar om lande mee te ploeg en saad te plant nie.”
Intussen sê die departement die uitdeel van die trekkers behoort eers teen Maart 2011 afgehandel te word.
Lees die volledige berig op Nuus24.com.
17 Desember 2010