Boere in die Noord-Kaap is steeds moedeloos oor die muggieplaag nadat ‘n gifspuit-poging die afgelope naweek misluk het.
Mnr. Hoffie Joubert, ‘n verteenwoordiger van Agri Noord-Kaap, sê die gif wat vir die spuitsessies aangemaak is, was té veel verdun.
“Hulle het 100 liter per dosering gebruik. Dít beter aangepas word voor die naweek se verwagte spuitsessie, anders gaan nog R1 miljoen net gemors word!” sê Joubert. Die grootste kommer wat tans voorkom is of die helikopter betyds gehuur sal kan word vir ‘n tweede spuitsessie voor die volgende sarsie larwes nie meer vir die gif vatbaar sal wees nie.
Die helikopter wat altyd vir dié perbeheer opdrag van die departement van landbou, bosbou en visserye gebruik is, moet versien word. Die nodige geld is glo nie daarvoor beskikbaar nie, en die muggies is sowat ‘n jaar laas gespuit. Joubert sê met die afgelope spuitsessie is die gebruiklike proefnemings wat die gifvlakke moet vasstel, nie gedoen nie.
R1,4 miljard skade
Volgens Joubert het die departement ‘n paar jaar gelede ‘n studie onderneem om vas te stel wat die ekonomiese impak van die muggieplae naby riviere op die landbou is. “Baie goeie navorsing is gedoen, en daar is bepaal dat by die Oranjerivier alleen die impak ‘n verlies van sowat R1,4 miljard per jaar kan beteken. Geen bedryf kan sulke ekonomiese terugslae uitstaan nie.”
Die grootste verliese word aangteken omdat skaap-ooie en koeie tydens muggietyd kalf en lam en hulle lammers en kalwers verloor. Joubert sê die muggies kan diere se ore stomp vreet, en hulle vreet die fyn vliese rondom die oë af tot net ‘n wit blootgestelde oppervlak oorbly. “As ‘n proef het ons eenkeer ‘n skaap ondersoek wat weens muggiebyte gevrek het. Dit was baie erg om te sien dat toe ons die dier oopsny, geen bloed uitloop nie. Die skaap was letterlik leeg gesuig.” Kyk hier na foto’s van diere in die Boesmanland wat daagliks die muggies moet uitstaan.
Kommer bestaan ook oor die welstand van werkers. “Die muggies het party werkers al só erg gebyt dat hulle ‘n allergiese reaksie getoon het en in die hospitaal opgeneem moes word.”
Derde spesie
‘n Derde spesie muggies, wat in stilstaande water broei, blyk dié jaar voor te kom. “Dit beteken dat nie net die twee ander spesies, wat in lopende water broei, meer beveg en besproei moet word nie,” vertel Joubert.
Hy sê hulle hoop dat dié tweede spuitpoging betyds sal wees om die nuwe larwes wat uitgebroei het, dood te maak. “Hulle kan net tot op die vyfde larwe-stadium doodgemaak word. Meeste van dié larwes gaan weens die warmer weer vinniger as gewoonlik deur die stadiums, en sou die warmer weer voortgaan, kon hulle teen die naweek reeds die sesde stadium bereik het.”
20 September 2011