Die tweede spuitpoging om die muggieplaag in die Noord-Kaap te bestry, blyk ’n “groot sukses” te wees, sê Agri Noord-Kaap.
Dié poging is verlede Woensdag en Donderdag (28 en 29 September 2011) onderneem.
“Die manne het die afgelope paar dae die rivier tussen Boegoeberg in Boesmanland en Grootboom in Namakwaland gemonitor en hulle sê die klippe was skoon, hulle het geen larwes teëgekom nie,” vertel mnr. Johan van Rensburg, hoofbestuurder van Agri Noord-Kaap.
Van Rensburg sê dié sukses beteken egter nie die einde van boere se hoofbrekens nie.
“Die muggies wat reeds uitgebroei het, sal nog vir ’n paar weke lank leef en boere, hul werkers en vee steeds teister. Daar is egter darem nou lig in die tonnel.”
Lei boere op
Wat ’n langtermyn-oplossing vir dié jaarlikse probleem betref, wil die organisasie aan die staat voorstel om boere in die moniteringsproses op te lei.
Sodoende kan boere wat in die omgewing is, die riviere vir larwes monitor en die departement betyds in kennis stel sodat die muggies in die toekoms behoorlik bestry kan word.
“Ons kan nie meer net op die departement wag om op te tree nie, ons moet die situasie deurlopend monitor en ons eie belange begin beskerm. As die monitering van larwes korrek gedoen word en hulle betyds gespuit word, sal ons nie met so ’n reuse-probleem sit soos wat tans die geval is nie,” aldus Van Rensburg.
Hy sê hulle hoop dat die departement die voorstel sal aanvaar, want die boeregemeenskap is bekommerd oor die monitering van muggieplae.
5 Oktober 2011