Die restitusieproses moet nie heropen word nie. Dit sal net valse verwagtinge skep, aldus dr. Pieter Mulder.
Dit is een van die opmerkings wat hy gemaak het in ’n dokument oor die groenskrif vir grondhervorming. “Pres. Jacob Zuma het tydens een van die krisisvergaderings oor die dokument gesien dat groot ontevredenheid bestaan en hy het my gevra om my voorstelle op skrif te sit,” vertel hy.
Mulder sê hy is bly om te sien dat die aangepaste groenskrif nie dieselfde lang geskiedenis, wat na grondbesit voor 1913 verwys het, bevat nie.
“Ek hoop dat my voorstelle dus ’n verskil gemaak het. Ek glo daar is ander maniere om die probleme van dié wat nie die spertyd van die eerste restitusieproses gehaal het nie, op te los.”
Dubbelsinnigheid
Mulder sê hy is bekommerd oor sommige veranderinge wat gemaak is aan stellings en bepalings wat moontlik dubbelsinnig vertolk kan word.
“Sou ’n Mugabe-tipe leier dit moet toepas, sou dit verkeerd vertolk en dan toegepas kan word.”
Hy sê hoewel hy ook positief is oor die feit dat die Groenskrif nou vrygestel is en daaraan gewerk kan word, is dit ideaal om veranderinge te probeer maak voordat so ’n dokument deur die Kabinet goedgekeur word.
“Ná dit gepubliseer is, is dit moeiliker om veranderinge te maak. Die ANC moet die dokument nou verdedig by sy mense en kan dalk moeiliker instem tot veranderinge,” verduidelik Mulder.
Grondplafonne
Nóg ’n bron van kommer vir Mulder is dat grondplafonne steeds in die groenskrif ingesluit is. Hy sê nog geen duidelike verduideliking is vir grondplafonne gegee nie, en dit kan ’n resep vir voedseltekorte wees.
“Ongeveer 15% van Suid-Afrika se kommersiële boere produseer tans 80% van die kos wat gebruik word. Deur grondbeperkings op hierdie groot boere te plaas, gaan die hele landbou-ekonomie verwring sonder om die grondhervormingsprobleme van die Regering op te los,” verduidelik hy.
Mulder het sy dokument aan die departement afgesluit met ’n opmerking dat as die probleme in landelike gebiede behoorlik aangepak word, die Regering verras gaan word deur die goeie energie wat van landelike gebiede sal kom.
31 Augustus 2011