Die Departement vir Landbou, Bosbou en Visserye moet dr. Pieter Mulder, adjunk-minister, skriftelik om verskoning vra en onmiddellik toesien dat hy sy foto en sy voorwoord ook in die 2009/’10-jaarverslag van die departement verskyn.
Dit is die gebruik by staatsdepartemente dat ‘n foto en skrywe van die minister, adjunk-minister en direkteur-generaal van ‘n departement voor in die verslag verskyn.
In die departement se jaarverslag bedank me. Tina Joemat-Pettersson, die betrokke minister, Mulder vir sy harde werk en ondersteuning. Mulder is ook die leier van die Vryheidsfront Plus.
Mnr. Lulu Johnson, voorsitter van die Parlement se portefeuljekomitee vir landbou, bosbou en visserye het dit duidelik gemaak dat pres. Jacob Zuma Mulder as adjunk-minister aangestel het en dat sy weglating uit die voorwoord van die verslag ernstig nalatig is.
Johnson het gesê dat nie net die foto ontbreek nie, maar ook verwysing na Mulder se pligte.
“Toe ons na die visserye-afdeling van die departement gegaan het, was daar ook net ‘n foto van die minister en die president. Daar is geen foto van Mulder nie.”
Johnson het die departement versoek om Mulder skriftelik om verskoning te vra en dat die saak reggestel word.
13 Oktober 2010