Dr. Pieter Mulder, leier van die VF-Plus, het pres. Jacob Zuma duidelik laat verstaan hoe hy oor die president se uitsprake oor grond voel.
Pres. Zuma het in sy Staatsrede uitgewys dat dit ‘n “algemene instemming” is dat die gewillige koper/verkoper-beginsel nie werk nie en daarom is slegs 8% bereik van die teiken dat 30% grond teen 2014 oorgedra moet word. Zuma het in die Nasionale Vergadering gesit terwyl parlementslede sy Staatsrede gedebatteer het.
Mulder het gesê hy verskil van hierdie syfers en van die stelling dat wit mense grond gesteel het. “Daar is nie ‘n voltooide grond-oudit waarteen dié syfers gemeet kan word nie.”
30% van die grond
Hy wou weet wat die ANC bedoel as hy sê 30% van die grond in Suid-Afrika moet in swart hande wees. Sluit dit staats- en stedelike grond in? het hy gevra.
Dit word aanvaar dat die staat 25% van die land se grond besit, en hierdie tel nie as wit grond nie, het Mulder uitgewys.
Mulder het gesê die Zulu-koning besit meer as 2,8 miljoen ha grond en mnr. Cyril Ramaphosa, ‘n sakeman, en mnr. Tokyo Sexwale, Minister van Huisvesting, het onlangs heelwat plase van wit boere gekoop. Mulder wou weet waarom hierdie grond nie bygetel word nie.
Mulder het ook gesê dat die president se uitsprake teen die nasionalisering van myne meer sekerheid gebring het. “Maar in dieselfde week herhaal die president die stelling dat die gewillige koper/-verkoper beginsel nie die beste weg is om die grondkwessie op te los nie.”
Grondhervorming ‘rampspoedig’ toegepas
In die volksmond beteken dit dat die Regering glo in die nasionalisering van landbougrond. “Enigeen wat met herverdeling van grond te doen het, kan vir jou aantoon dat die probleem nie by die beginsel lê nie, maar dat die probleem die rampspoedige manier is waarop grondhervorming toegepas is.”
Mulder het gesê hy het talle briewe van wit kommersiële boere ontvang wat hulle grond aanbied vir die departement, maar geen reaksie ontvang nie. Ander kommersiële boere het bankrot gespeel nadat koopkontrakte met die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming gesluit is, maar dat dié geld ná drie jaar nog nie uitbetaal is nie.
15 Februarie 2012