Die vinnige tempo waarteen steenkoolontginning op die oostelike Hoëveld van Mpumalanga toeneem, hou nie net ’n ekologiese bedreiging vir Suid-Afrika in nie, maar het ’n langtermyninvloed wat ook die stabiliteit van voedsel- en voerproduksie nadelig kan beïnvloed.
Me. Magda Kleyn, ’n boer by Delmas, sê hoewel die oostelike Hoëveld nie die grootste produksiestreek vir mielies en sojabone is nie, is dit die mees stabiele. Mynbou kan dus ’n groot bedreiging vir voedselsekerheid inhou.
“Daar is ander gebiede waar meer tonne mielies en sojabone in ’n goeie jaar verbou word, maar soos ons die afgelope ruk gesien het, is die invloed van droogtes en verspoelings daar ook erger.