
Dr. Ferdinand Meyer, hoof van BFAP, sê hulle is tans besig met ’n studie vir Graan SA oor watter impak ’n toename in myne op die landboubedryf in dié provinsie het.
Volgens die voorlopige bevindinge sal Mpumalanga sowat 700 000 ha landbougrond inboet as mynbedrywighede vir die volgende tien jaar voortgaan soos wat tans die geval is. Meyer sê sowat 200 000 ha van dié grond sluit hoëpotensiaal-landbougrond in. Die provinsie het sowat 2,6 miljoen ha landbougrond.
Meyer het dié feite op vanjaar se kongres van die Landboubesigheidskamer (Agbiz) in die Drakensberge bekend gemaak.
Plan
Dié feite is van die inligting wat in ag geneem word in ’n verslag om die Nasionale Beplanningskommissie in te lig oor wat nodig is om een miljoen werksgeleenthede in die bedryf te hê.
Meyer sê ’n toename in besproeiing en toegang tot water kan sowat 30 000 meer werksgeleenthede in arbeidsintensiewe boerderye skep. Dié boerderye sluit onder meer avokado’s, neute, vrugte, olyf- en druifverbouing en die wynbedryf in.
Aan die graan- en oliesadekant, wat minder arbeidsintensief is, kan verhoogde besproeiing sowat 14 000 meer werksgeleenthede tot gevolg hê. Hy sê die pluimvee- en veebedryf het die potensiaal om met 1,8 miljoen ton te groei, wat sowat 43 000 meer werksgeleenthede sal beteken.
Skole-voedingskemas
Meyer sê die verslag verwys ook na die moontlikheid van skolevoedingskemas en die voordele wat dit vir landboubedrywe tot gevolg kan hê. Die skemas kan die verbruik van byvoorbeeld aartappels en tamaties met tot sowat 68 000 ton laat groei.
Hy sê groter aanplantings van dié gewasse sal pryse benadeel, maar met ’n skolevoedingskema sal ’n bestendiger omgewing vir groter verbouing geskep kan word.
Wat ’n tydraamwerk vir die implementering van die voorgestelde plan betref, meen Meyer ’n beleidsvoorstel kan reeds binne die volgende ses tot agt maande ter tafel gelê word, mits die plan deur die kommissie en die Regering goedgekeur word.
Intussen word aan die volgende been van die studie – wie, waar en hoe – gewerk.
Mnr. John Purchase, hoof uitvoerende beampte van Agbiz, sê met dié plan in gedagte hoop hulle op beter kommunikasie vanaf die Regering se kant met landbouondernemings. “Interaksie met die staat is tans ’n groot frustrasie. As die staat nie ernstig gaan wees oor voorstelle nie, gaan dit tot groter wantroue en verdeeldheid lei.”