
’n Onseker toekoms wag op Phila, die renoster wat nege keer deur stropers geskiet is en tans in die Johannesburgse Dieretuin aangehou word. Dr. Brett Gardner, die dieretuin se veearts, sê Phila se wonde en beserings het herstel, maar haar eienaar en die dieretuinbestuur het nog nie aangedui of sy na haar oorspronklike habitat gaan terugkeer nie.
“Sy is in die dieretuin ontvang sodat ons haar kon gesond maak en monitor. Aanvanklik is gesê sy behoort ses maande hier te bly waartydens oor haar toekoms besluit sal word,” vertel Gardner.
Lewensgehalte
Hy sê Phila is nou fisiek gesond en sewe van die nege koeëls waarmee sy by die dieretuin opgedaag het, is verwyder. Phila sal in die dieretuin kan oorleef, maar hy meen haar lewensgehalte sal beter wees as sy na die veld teruggeneem word.
“Phila is ’n wilde dier en sy gaan nie binnekort mak word nie. Ek weet sy is ’n soort simbool teen renosterstroping, maar ek sien nie die nut daarin om haar in die dieretuin te hou net om te keer dat sy geskiet word terwyl haar lewensgehalte as wilde dier beter sal wees nie,” vertel Gardner.
Skrikkerig vir mense
Gardner sê Phila is skrikkerig vir mense vandat sy by die dieretuin aangekom het. “Sy beseer haarself darem nie meer om van mense te probeer wegkom nie, maar ná meer as ses maande is sy steeds skrikkerig vir mense.”
Kyk hier na 'n video van Phila wat versigtig in haar kamp rondbeweeg.
8 April 2011