
Die model is gemik op ’n diensverskaffer wat die werk op die grond behoorlik doen, ’n waghondliggaam (soos ’n waterraad) om toe te sien dat alles reg verloop, en dan die staat wat die finansiering daarvoor verskaf.
Mnr. Andreas Peens, prokureur van die inwoners van die Kgetlengrivier-munisipaliteit, het as genooide spreker op ’n vergadering van Agri SA se sentrum vir ekonomie en handel vertel wat die twee dorpe in Noordwes tot dusver vermag het nadat die hooggeregshof hulle toegelaat het om beheer oor die plaaslike riool- en waterwerke oor te neem.
Ná jare se gesukkel met watertoevoer en besoedeling deur die storting van onverwerkte riool het die inwoners van die dorpe binne dae die probIeme self opgelos. Dié dorpe het regsgeskiedenis gemaak deur ’n aanvanklike hofbevel teen die munisipaliteit te bekom en daarna ’n skikking te bereik om beheer oor die water- en riooldiens tydelik oor te neem, dit te herstel en dan aan ’n geskikte diensverskaffer te oorhandig.
Probleme
Die probleem nou is dat nie die munisipaliteit óf die aanvanklike aangewese diensverskaffer, Magalies Water, die proses kan bestuur nie. Die gemeenskap het ’n private dienstemaatskappy, Pionier, aangestel om die aanlegte aan die gang te hou.
Peens sê die water en rioolwerke is op 17 Maart aan die munisipaliteit teruggegee. Die inwoners sou tien dae later wéér met beurtwater te doen gekry het omdat die opgaardamme binne dae byna leeg was.
“Ons werk nou aan ’n model van ’n gesamentlike onderneming waar die inwoners se dienstemaatskappy Pionier die werk doen, dat Magalies Water net ’n toesighoudende rol speel en die staat dan vir die proses betaal.
Hy sê hulle wil kyk of hulle nie só ’n struktuur in die hof kan vasmaak om dan só vir ander dorpe ’n regsresep te gee om soortgelyke ooreenkomste met die staat te sluit nie.
“Ek dink dit sal die roete vir almal makliker maak. Ek dink nie ons moet nou in 15 of 30 dorpe verskillend litigeer nie. Ek hoop dat die model in plek kan kom dat ander gemeenskappe in ander dorpe waar daar totale verval is dit ook kan toepas.”
Jare lange papierspoor?
Hy sê dit is nie nodig om ’n jare lange papierspoor oor verval te hê om te kan optree nie. Om die regsproses aan die gang te sit, is daar ’n paar briewe aan die munisipaliteit oor die verval nodig waarin hulle gevra word om dit reg te stel. “Dit is ’n kwessie van ’n reg waarop inbreuk gemaak word en as daar nie ’n ander oplossing is nie, word die hof genader om beheer oor te neem.”
Peens sê dit was ’n groot geldlas op die inwoners van Koster. Daarom sal hy graag wil sien dat ’n model gevestig word waar die hof gevra word om voorsiening vir ’n mate van betaling te maak. Die inwoners van Koster het aanvanklik nie voorsien dat hulle die aanlegte vir só ’n lang tyd sou moes bestuur nie, en die koste was baie hoog voor hulle betaling gekry het.
Mnr. Carel van Heerden, voorsitter van die belastingbetalersvereniging, sê sakeleiers en boeregemeenskappe het baie bygedra op grond van die versekering deur die hofbevel dat die munisipaliteit die koste moes vergoed het. “Daar was self mense wat gesê het hulle wil nie vergoed word nie en dat hulle skenkings gebruik moet word om die sakekamer se finansies te versterk.”