
Dié drie maatskappye het ’n memorandum van verstandhouding onderteken dat Konsortiumboere se wol voortaan in Decathlon se sportklere gebruik sal word. Dit sal vooraf teen ’n 5%-premieprys gekontrakteer word, sê mnr. Clarence Friskin, uitvoerende hoof van Segard Masural in Suid-Afrika.
Decathlon bedryf amper 1 400 winkels in 42 lande. Die maatskappy het 82 000 personeellede en ’n jaarlikse omset van meer as €11 miljard (meer as R187 miljard).
Decathlon se Quechua-reeks spesialiseer in stapklere en -toerusting. ’n Deel van die reeks is verskeie produkte wat stappers teen die vel dra. Hulle glo wol is die beste vesel vir hierdie soort kledingstuk, sê Friskin.
Hulle gebruik net Suid-Afrikaanse wol en het nou besluit om al hierdie wol deur Segard Masurel aan te koop. Voorts het hulle onderneem dat minstens die helfte van hierdie wol van Konsortiumboere moet kom.
Friskin sê Decathlon stel baie streng vereistes oor die etiese hantering van vee en goeie omgewings- en maatskaplike bestuur op die plaas. ’n Deel van die ooreenkoms is dus dat Segard Masurel plaas-oudits gaan doen om te verseker dat aan Decathlon se vereistes voldoen word.
“Hierdie ooreenkoms is ’n nuwe manier van bemarking van Suid-Afrikaanse wol, nie net vir Konsortium se lede nie, maar ook vir ander boere wie se wol en boerderye aan die vereistes voldoen.
“Konsortiumlede se wol sal regstreeks van die plaas af gekoop word teen 5% bokant die markprys op die dag van kontraktering.”
Die doelwit is om wol te kontrakteer nog voordat dit geskeer word, sê hy.
’n Eerste besending wol is reeds aan Decathlon gelewer.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.