
Die turbine is die afgelope week tydens die Windaba, die wind-indaba wat in Kaapstad gehou is, aan Suid-Afrika bekend gestel.
Mnr. Devin Osborne, uitvoerende hoof van Thula Moya, ’n familie-onderneming wat hom op herwinbare energie toespits, het gesê een van die maniere hoe Suid-Afrikaners kan help om die vrystellling van koolstofdioksied te verminder, is om na herwinbare opsies oor te beweeg.
Met die land wat goeie windpotensiaal het, het die maatskappy die AWM, ’n geraaslose windturbine vir residensiële gebruik, na die land gebring.
Die turbine is voël- en vlêrmuisvriendelik, vanweë sy ontwerp wat die vorm van ’n roos aanneem. Die unieke vorm pas aan by die wind se optimale rigting en funksioneer selfs goed in onstuimige wind.
’n Enkele AWM produseer gemiddeld 95 kWh per maand. Dit is ongeveer 25% van die elektrisiteitsbehoefte vir ’n gemiddelde huishouding in die land.
Voorspellings dui aan dat die turbine sowat 1 000 kWh per jaar sal lewer, na gelang van waar dit in die land opgerig is. In gebiede waar daar meer wind is, kan dit tot meer as 1 700 kWh per jaar lewer.
Osborne dui aan dat dit huishoudings se koolstofdioksied met ’n ton per jaar sal verminder. Om maksimum energieproduksie te verseker, kan dit met fotovoltaïes-gebaseerde sonkrag verbind word. Huishoudings kan tot 95% van hul elektrisiteitskoste bespaar, het hy gesê.
Energie vir landelike gebiede
Mnr. Gwede Mantashe, minister van minerale hulpbronne en energie, het tydens die Windaba gesê wind en ander herwinbare energietegnologieë bied die vooruitsig vir die ontwikkeling van die land se landelike gebiede wat smag na voldoende energie. Mantashe was die hoofspreker by die geleentheid.
Met behulp van dié tegnologieë kan kragvoorsiening geïsoleerde gemeenskappe bereik, waar die ontplooiing van tradisionele kragnetwerk-infrastruktuur moeilik en duur is.
Die moontlikheid om hierdie soort energie op te berg, kan windenergie ’n baie aanloklike opsie vir die toekoms maak.
Die regering sloer egter nou al etlike maande om die nuwe geïntegreerde hulpbronplan (IRP), wat die bloudruk vir die land se energiesektor sal wees, bekend te maak.
Mantashe het aangedui dat die plan binnekort voor die kabinet sal dien vir goedkeuring.
“Ons energiebeleid is geskoei op ’n energiemengsel wat steenkool, wind en ander (vorme van energie) bevat. Steenkool, ingevoerde hidro-energie, kernkrag, wind, sonenergie, biomassa, opbergingsvermoë en energiedoeltreffendheid is die tegnologiese opsies wat ons opgeweeg het na gelang van hul onderskeie meriete.”
Hy het gesê dat 8 000 megawatt nuwe, herwinbare energiekapasiteit aangeskaf is. Fotovoltaïes-gebaseerde sonkrag en windenergie het die meeste in koste afgeneem en kan nou meeding met gebruiklike kragopwekkingsbronne. Verlede jaar het die regering 27 projekte onderneem wat ongeveer 2 000 megawatt verteenwoordig. Dit bring belegging in die sektor tot meer as R250 miljard.