
Betredingswaarskuwings word in verskillende tale (van die boer se keuse) sowel as QR-kodes met verskillende funksies op die pleknaamborde aangebring. Mnr. Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai, sê wanneer die QR-kodes met ’n slimfoon of -tablet ontsluit word, bied dit byvoorbeeld aan die boer volledige regsadvies wat deur regslui opgestel is oor hoe om ’n grondbesetting te hanteer. ’n Ander kode bied weer toegang tot ’n klagtevorm wat digitaal opgestel, ingevul en ingedien kan word.
“Dit registreer outomaties ook by Saai, waar ons regspan dit gereeld sal opvolg om te verseker dat die polisie ’n saak open en iets daarom doen. Saai hou dit namens die grondeienaar om ’n saak vir toekomstige regsaksies op te bou.”
Rossouw sê die ANC se 2017-besluit om die Grondwet te verander om duidelik vir onteiening sonder vergoeding voorsiening te maak, het familieboere diep bekommerd gelaat. “ ’n Veel groter bedreiging teen eiendomsreg is egter eerder die informele, ongekoördineerde en onbeheerste grondgrype op voetsoolvlak, betredings, besettings, plakkery en vee wat in boere se landerye of weidings ingejaag word. Die gevaarligte begin veral flikker as die polisie niks daaraan doen nie, die owerheid sy kop wegdraai en die grondeienaar alleen in die konfrontasie staan.”
Diep bekommerd
Hy sê Saai is diep bekommerd oor die verskerpte voorkoms van grondbesettings in Noordwes, die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal, en die polisie se onvermoë of onwilligheid om daarteen op te tree. “Buiten om ’n lawaai daaroor te maak en die wêreld se aandag deurlopend daarop te vestig, sal iets daadwerkliks gedoen moet word. Daar moet betyds en oor ’n baie breë front wal gegooi word.
“Uit ervaring wat Saai en ons netwerkvennote oor die afgelope twee jaar opgebou het, weet ons dat dit die afsonderlike, klein pogings van groot getalle gewone, vredeliewende Suid-Afrikaners is wat gesamentlik die deurslaggewende gewig verleen om ’n nasionale impak te maak.”
Saai wil saam met sy netwerkvennote soveel as moontlik van hierdie liggewig, maar duursame plaasnaamborde reg oor Suid-Afrika oprig om ’n hou te slaan teen betredings, besettings en plakkery op plase. Rossouw sê hulle het reeds ’n merkwaardige netwerk en regspan op die been gebring en glo dat vinnig en doeltreffend op klagtes gereageer kan word.
Oor die regering se besluit om onteiening sonder vergoeding toe te laat, het Saai en sy netwerkvennote reeds honderdduisende rande ingesamel vir ’n stryd in die howe, wat heel waarskynlik ook deur internasionale beregtiging beslis sal word. Rossouw sê die gevegslinies is opgestel. Dit gaan nie so maklik wees om artikel 25(3) van die Grondwet te wysig nie.
“Oor die afgelope twee jaar het Saai by drie geleenthede in Rome, Berlyn en New York die sinloosheid van die ANC se onteieningsbeleid aan die Verenigde Nasies en Europese Unie se besluitnemers verduidelik. Saai skakel ook weekliks met ambassades en buitelandse landbou-unies om seker te maak dat hulle die agenda daaragter begryp.”
Enige familieboer kan plaasnaamborde by Saai se webwerf by www.saai.org bestel.