
In ’n skittervertoning by die SA Jongwynskou het Namaqua Wyne beide die gesogte Generaal Smuts-trofee én die Pietman Hugo-trofee ingepalm.
Die SA Jongwynskou is Vrydag (25 Augustus) vir die 185ste keer aangebied. Die Generaal Smuts-trofee, vir die algehele wenwyn van die jaar, is vanjaar vir die 66ste keer oorhandig. Dié slag was dit ’n rooi versnitwyn, bestaande uit Ruby Cabernet, Carménère en Merlot, wat die beoordelaars uitgeboul het.
Die kelder het die Pietman Hugo-trofee gewen omdat hulle die hoogste puntetelling vir sy vyf beste inskrywings behaal het.
Die Olifantsriviervalleise produsent het ook drie kampioenskapstrofeë gewen vir die SA kampioen rooi versnit, SA kampioen Merlot en SA Kampioen vir ander rooi kultivar (Ruby Cabernet).
Volgens mnr. Christo Pienaar, voorsitter van die SA Nasionale Wynskouvereniging, is altesaam 1783 wyne vir vanjaar se Jongwynskou ingeskryf. Hiervan het 9% goue toekennings, 40% silwer toekennings en 32% brons toekennings ontvang. Die medalje-oes is effens groter in al drie kategorieë.
“Dit kan toegeskryf word aan die nuwe honderdpunt-beoordelingstelsel wat gevolg is, maar die tipe seisoen het ook ’n rol gespeel. Die oes was kleiner en water was ’n probleem, maar die droër toestande het voordele in die kelder gehad. Die kleiner korrels het vir beter kleur en geur gesorg en die uitslae reflekteer dit.”
Steeds relevant
Die SA Jongwynskou is die eerste keer in 1833 deur die Kaap die Goeie Hoop Landbougenootskap (deesdae bekend as Agri-Expo) in Rondebosch aangebied. Dis een van die oudste wynskoue ter wêreld.
“Daar is verskeie redes waarom ons steeds die SA Jongwynskou aanbied. Ons is in ’n tyd van verandering en ons kan nie vir altyd net met Sauvignon blanc en Colombar boer nie. Daar is deesdae baie nuwe kultivars en die Jongwynskou is ’n goeie platform vir wynmakers om kultivars te toets en daarmee te eksperimenteer,” het Pienaar gesê met verwysing na kultivars soos Nouvelle, Verdelho, Rosanne en Marsanne.
“Dis ook ’n platform om houtprogramme te toets. Nuwe versnitte word ook gereeld op die Jongwynskou gesien, soos die klaswenner waarvan Carménère deel vorm. Dis ook die plek waar wynmakers met nuwe wynstyle begin speel.”
Wenners
Die ander sterre van die aand was Spier Wyne en Benguela Cove-wynlandgoed, wat albei twee SA Kampioenskapstrofeë gewen het. Die nuutste toevoegings tot Spier se vertoonkas is die trofeë vir Chenin blanc en Cabernet sauvignon.
Tydens Benguela Cove se debuut by Jongwynskou, het die kelder die trofeë vir Sémillon en wit versnit, vir Sémillon/Sauvignon blanc, gewen.
Die ander trofeewenners is: Diemersdal (SA Kampioen Sauvignon blanc), Glen Carlou Vineyards (SA Kampioen Chardonnay), Botha Kelder (SA Kampioen ander wit kultivar vir Nouvelle), Wellington Wyne (SA Kampioen Pinotage), La Couronne-wynlandgoed (SA Kampioen Shiraz), Oranjerivier Wynkelders se Keimoes-kelder (SA Kampioen natuurlike soet witwyn), Badsberg-wynkelder (SA Kampioen edellaatoeswyn), Boplaas (SA Kampioen Port), Aan de Doorns-wynkelder (SA Kampioen muskadel vir rooi muskadel jerepiko) en Calitzdorp-wynkelder (SA Kampioen dessertwyn vir Hanepoot Jerepiko).
Mnre. Christo Pienaar, voorsitter van die SANWV, Reiner van Greunen en Len Knoetze van Namaqua Wyne. Foto: Verskaf