
Mnr. Christie Keulder, Namibiese navorser wat hom onder meer op meningsopnames toespits en in 38 lande werk, het op die Namibiese Landbou-uniekongres in Windhoek gesê sowat 2,96 miljoen mense, wat bykans 30% van die land se inwoners uitmaak, woon reeds in stede en dorpe. Boonop is 43% van mense tussen 18 en 25 jaar werkloos. Die prentjie word vererger deurdat meer as 50 000 skoolverlaters per jaar ook werk soek, terwyl 896 maatskappye in 2020 alleen 12 198 mense afgedank het.
Sowat 80% van die Namibiërs koop kos en is dus nie selfvoorsienend nie. Ongeveer 60% van die kos word ingevoer.
Maatskaplike onrus neem toe sodra die ekonomiese toestand verswak, daar groot inkomstegapings in die bevolking is en ’n negatiewe ekonomiese skok voorgekom het, soos ’n nasionale inperking (soos covid-19). Die samevoeging van hierdie drie faktore lei tot ontevredenheid en onrus,
Mense wil hê die regering moet aandag aan werkloosheid, armoede, korrupsie, gesondheid, opvoeding en grondbesit gee. Droogte speel in plattelanders en stedelinge se perspektief ’n rol in die probleme wat hulle die meeste raak.
“Mense was ná die oorlog en onafhanklikheid baie lojaal teenoor die regering, maar baie voel nou hulle word nie meer goed genoeg behandel nie. Toe het 60-65% gesê hulle wil demokrasie hê, maar nou is dit nader aan 55%.”Mense se siening word in drie kategorieë van vertroue in die president gemeet: 54% vertrou hom, 27% vertrou hom nie altyd nie en 20% vertroue hom nooit nie. “Ons wil wegkom van die siniese mense, want hoe langer die regering nie presteer nie, hoe meer neem die vertroue af.”
Keulder se ondersoeke dui daarop dat die grootste korrupsie is op elite-vlak en dit bevoordeel nie die gewone mense nie. Namibië tel nou onder die topvyf lande in Afrika van inwoners wat dink korrupsie neem toe. “Die mense wat blindelings vertrou, daal en dit is ’n teken dat hulle dink ’n regering is korrup.”
NLU se verjongingskuur
Intussen is op dieselfde kongres aangekondig dat die NLU ’n jongboerkomitee op die been gebring het.
Mnr. Piet Gouws, herkose voorsitter van die Namibiese Landbou-unie (NLU), het sy blydskap oor die toetrede van die jong boere op die jaarkongres in Windhoek uitgespreek. Hierdie Gideonsbende het die taak om ander jong boere en boerinne onder veertig te identifiseer en te oortuig om aan die georganiseerde landbou deel te neem. Dit sal die NLU en boereverenigings vernuwe. “Jong boere moet hierdie organisasie vorentoe vat en op koers hou sodat die gemiddelde ouderdom van ons lede van die huidige 56 jaar na 46 jaar kan verander.”
Hy het vertel die totstandkoming van die jongboerkomitee het gevolg ná die NLU se besoeke aan boereverenigings. “Dit was opmerklik hoeveel jong boere terug is op die plase. Hierdie jong manne is nie noodwendig almal lid van die georganiseerde landbou nie, of hulle is lid maar nie deelnemend nie. Ná baie gesprekvoering en vrae aan boereverenigings is besluit om ’n jongboerkomitee te stig. Die ouer generasie moet meer akkommoderend teenoor hulle wees. Die jong boere het ’n passie en visie vir die landbou en kyk met ander oë. Kom ons luister na hul planne en omarm die noodwendige veranderinge.”
Finansies is ’n groot beperking by die jong geslag boere. Gouws het die kommersiële banke uitgedaag om indringend te kyk na finansieringsmodelle wat hulle kan toegang gee tot finansiering sonder dat “pa se plaas” as sekuriteit moet dien.Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.