‘n Tydelike verbod op die beweging van vee is in Namibië afgekondig nadat ‘n rondloper-buffel in die noordooste van die land opgemerk is. Die verbod geld vir 21 dae.
Luidens ‘n berig in die Republikein het die Ministerie van Landbou, Water en Bosbou dié verbod ingestel in ‘n poging om ‘n uitbreking van bek-en-klouseer te keer.
Die verbod bepaal geen diere met gesplete hoewe mag tans die kommunale boerderygebiede in die voormalige Hereroland, of die kommersiële plase wat daaraan grens, verlaat nie. Ses maande gelede het die teenwoordigheid van twee rondloperbuffels naby Okakarara tot die sluiting van sowat 200 plase in die sentrale oostelike dele van die land gelei. Toetse het bevestig dat dié diere wel bek-en-klouseer onder lede gehad het.
Die gebiede wat tans geraak word, is Okakarara, Okondjatu, Otjituuo, Okamatapati, Gam, Otjinene, Epukiro, Otjombinde en Eiseb. Die verbod geld ook vir kommersiële plase in die Grootfontein-, Otjiwarongo-, Okahandja- en Gobabis-distrikte - wat teenaan die kommunale gebiede of een plaas verder weg geleë is.
Plase elders in die land wat tans beeste, skape, bokke of varke wat uit dié geslote gebiede afkomstig is aanhou, word ook deur die verbod geraak.
Mnr. Paul Strydom, bestuurder van die Namibiese Vleisraad, sê dit is jammer dat die vleisbedryf so gou ná die vorige voorval weer deur ’n bewegingsverbod geraak word. Hy maan egter dat dit belangrik is dat produsente gehoor gee aan die noodmaatreëls, omdat dit getref is om die gesondheidstatus van diere in die boerderygebiede suid van die geslote gebied te beskerm.
Bron: Republikein
7 Februarie 2012