
Boere in die waterskaars Namibië het hul steun gewerp agter hul regering se onlangse besluit om ’n watergebruikspermit aan die Uranium One-mynmaatskappy te weier. Uranium One, die uraanvertakking van dieRussiese staatsonderneming Rosatom, wil in-situ-loging (ISL) gebruik om uraan, wat as ’n kernbrandstof gebruik word, te onttrek aan ertsafsettings in Namibië.
Hoewel Landbou.com teen die tyd van publikasie nie bevestiging van Namibië se ministerie van landbou, water en grondhervorming kon kry nie, het verskeie media berig dat die minister, mnr. Calle Schlettwein, die aansoek om ’n watergebruikspermit van Uranium One van die hand gewys het weens omgewingsbekommernisse wat met in-situ-loging verband hou.
Die Wêreld-kernkragvereniging se webwerf beskryf dié proses as “om die erts te los waar dit in die grond is en die minerale daaruit te herwin deur dit op te los en die inhoudryke oplossing na die oppervlak te pomp waar dié minerale herwin kan word. Uraan ISL gebruik die plaaslike grondwater in die ertsliggaam wat dan met ’n kompleksvormende middel en in die meeste gevalle ’n oksidant versterk is. Dit word dan deur die ondergrondse ertsliggaam gepomp om die minerale daarin te herwin deur uitloging.”
Die North Africa Post berig dat Schlettwein gesê het boere in die oostelike Omaheke-streek in Namibië het petisies teen hierdie proses ingedien.
Die wêreldinligtingsdiens oor energie se uraanprojek lys talle maatskappye wat reeds vir uraan in Namibië myn, of wat daar vir uraan prospekteer. Dié lys het vanaf Januarie 2017 vinnig uitgebrei nadat die Namibiese regering die opheffing van ’n tienjaarmoratorium op nuwe aansoeke vir eksplorasielisensies vir kernbrandstofminerale aangekondig het.
Me. Tanja Dahl, woordvoerder van die Namibië Landbou-unie (NLU), het aan Landbou.com gesê dat die NLU Schlettwein se siening ten volle ondersteun.
“Ons wil dit duidelik stel dat die NLU nie teen mynbou as sodanig gekant is nie. Ons verwelkom ontwikkeling wat werksgeleenthede skep, broodnodige buitelandse kapitaal vir Namibië verdien en ontwikkeling na die land lok. As daar egter ’n moontlikheid is dat ’n projek die enigste bron van vars drinkwater in ’n andersins droë gebied in gevaar kan stel, kan ons dit nie ondersteun nie.”
Sy sê as Namibië se skaars varswaterbronne, insluitend die Stampriet-oorgrens-akwiferstelsel van 65 000 km2, deur stowwe soos opgeloste radioaktiewe stowwe en die opbou van giftige swaarmetale besoedel word, sal minstens 80 000 Namibiese inwoners regstreeks en onregstreeks geraak word.
“Alle landboubedrywighede is afhanklik van vars water. Namibië se kommunale en kommersiële landbou kan nie die risiko van besoedeling loop nie.”Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.