Die landbousektor in Namibië is geskok nadat drie boere in dieselfde week slagoffers van geweldsmisdade was, sê die Namibiese Landbou-unie (NLU).
Luidens ’n nuusbrief sê die organisasie hy is geskok deur die moorde van mnre. Louis Vorster en Piet van Helsdingen.
Vorster, ’n boer van die distrik Gobabis, is by ’n vulstasie in Johannesburg deur drie gewapende mans doodgeskiet. Van Helsdingen is verlede week deur ’n tydelike werker op sy plaas vermoor.
Die organisasie sê die presiese gebeure rondom sy dood is nog nie bekend nie, maar die polisie ondersoek die saak. “Die NLU wil graag sy diepste simpatie met die familie en vriende van mnre. Vorster en Van Helsdingen betuig.”
Roof
Intussen is mnr. Piet Berg, ’n lid van die Leonardville-boerevereniging, Vrydag (20 April 2012) in Windhoek deur vier gewapende mans aangeval. Berg het by ’n slaghuis in die stad stilgehou waar hy vleis afgelewer het.
Luidens ’n berig in die Republikein het vier mans die voertuig omring terwyl een van Berg se werkers die vleis afgelewer het. Twee skote is afgevuur en een skoot het hom in die wang getref.
Die mans het glo met sowat N$45 000 in ’n taxi op die vlug geslaan. Dié geld het Berg na bewering ontvang by die vorige slaghuis waar hy vleis afgelewer het. Die NLU waarsku dat enigeen wat groot bedrae geld in sy of haar besit het, “uiters versigtig” moet wees.
Berg word in die hoësorgeenheid van ’n hospitaal in die stad behandel. ’n Koeël lê baie naby aan een van sy nekwerwels en hy het bloeding op sy kleinbrein. Dié koeël sal verwyder word nadat die swelsel rondom die brein gesak het. Sy sinusholtes en sy kakebeen is vergruis en hy het ook skade aan ’n nekwerwel.
Bron: Republikein
24 April 2012