
'n Positiewe gesindheid is bespeurbaar by die landbousektor in dié buurland se samesprekings met die staat oor 'n wye verskeidenheid sake wat die landbou intens raak.
Mnr. Derek Wright, voorsitter van die Namibiese Landbou-unie, het op 'n inligtingsdag op die plaas Neu-Otjisauona van mnr. Diethelm Metzger by Seeis in Namibië, wat verlede jaar as Landbouweekblad en Breedplan se Suider-Afrikaanse Stoetteler van die Jaar aangewys is, gesê die landbou in Namibië beweeg tans deur die golwe van die politiek. Dit gaan onder meer oor grondhervorming en grondwaardasies vir landbougrond.
Nogtans doen hulle hul voornemens tydens verlede jaar se jaarkongres gestand dat hulle nie aggressief teenoor die staat gaan optree nie. Dit is dus bemoedigend dat 'n brief van die kantoor van die staatspresident ontvang is waarin waardering uitgespreek is oor hul bereidheid om ter wille van grondhervorming hul samewerking te gee.
Die indruk kan bestaan dat die staat nie ernstig oor grondhervorming is nie as gekyk word na hoeveel grond deur boere aangebied is en hoe min plase werklik vir grondhervorming gekoop is. Daar was wel 'n geldtekort, maar R370 miljoen is vanjaar bewillig, wat op groter erns dui.
Die Duitse regering en Europese Unie het ook R300 miljoen vir die vestiging van nuwe boere bewillig. “Daar is dus 'n verbetering te bespeur,” het Wright gesê. Die landbou-unie het ook onlangs met regeringsamptenare vergader en hulle vertel oor die kommer oor nuwe boere wat op plase gesit word sonder om hulle te ondersteun. Sommige wit boere help hulle en skraap self brandpaaie en herstel heinings.
Die aanstelling van kundige boere op landboukomitees om leiding te verskaf, is 'n riem onder die hart. “Dit is duidelik dat die ander komiteelede na daardie kundiges luister," het hy uitgebrei.