Kiesers wat op 18 Mei 2011 by die Nampo-Oesdag naby Bothaville gaan wees, kan wel vooraf stem, sê Graan SA. Luidens ’n verklaring kan belangstellendes vir ’n spesiale stem aansoek doen om op 16 Mei 2011 in hul wyk te gaan stem.
Die organisasie het dié inligting bekom ná verdere navrae oor die verkiesings wat in die middel van vanjaar se Oesdag val. Vroeër is aangekondig dat die Oesdag voortgaan ongeag van die feit dat die verkiesingsdatum op 18 Mei val.
Die organisasie sê toe dit bekend geword het dat dié stemdatum in dié tyd sal val, was dit te laat om die Oesdag te skuif – aangesien sake reeds teen die einde van verlede jaar met die meeste uitstallers afgehandel is.
Die aansoek
“Om aansoek te doen besoek die OVK se webtuiste by www.elections.org.za en laai Aanhangsel 25 – Aansoek vir spesiale stem af. Die aansoekvorm moet persoonlik tussen 15 April en 3 Mei by die toepaslike munisipale verkiesingskantore ingehandig word, waarna ’n skriftelike besluit oor die aansoek aan die kieser oorhandig sal word (hou die dokument as bewys van u aansoekuitkoms),” lui die verklaring.
Die organisasie moedig alle kiesers wat die Oesdag op dié datum gaan besoek, aan om van die spesiale stemdag op 16 Mei gebruik te maak. “Ons herinner kiesers ook daaraan dat stembusse vanaf 7:00 tot 19:00 op 18 Mei 2011 oop sal wees”.
30 Maart 2011