
Vanjaar se Nampo-Oesdag duur vanaf 16 tot 19 Mei en vind oudergewoonte buite Bothaville in die Vrystaat plaas. Na verlede jaar se halfeeuvieringe van dié reuse landbousaamtrek het Graan SA besluit om verskeie veranderings en verbeterings aan die Nampo-perseel aan te bring om besoekers en meer as 700 uitstallers vanjaar te verwelkom.
“In samewerking met insetverskaffers, vervaardigers en verspreiders wat uitstal, bied die Oesdagkomitee die nuutste en mees gevorderde landboutegnologie op een terrein aan. Die fokus van die nuwe, uitgebreide terrein naby die saadplotte, is veral op bewaringslandboutoerusting en tegnologie,” het mnr. Cobus van Coller, Oesdagvoorsitter, bygevoeg.
Nuwe buite-uitstalruimtes is aan die oostekant van die terrein, naby die saadplotte, en by die hoofingang naby die Gedenkmuur aangebring en na ’n afwesigheid van twee jaar is die Vroueprogram terug met ’n nuwe ligging en inspirerende program in die GL Events-tent by die Polkadot-teetuin.
Meer internasionale uistallers
Uitstallers uit Indië, Israel, Portugal, Italië, Frankryk, Pole, Argentinië, die Verenigde State van Amerika sal weer vanjaar die Oesdag besoek met nuwe Britse en Kanadese pawiljoene, en uitstallers uit Brasilië en Ruslnd wat vir die eerste keer deelneem.
’n Nuwe en opgedateerde hindernisbaan sal daagliks geleentheid bied vir die voorste vervaardigers om hul produkte ten toon te stel vir 4x4-entoesiaste en vanjaar kry dié program ‘n kleinboet by in die vorm van ’n demonstrasiebaan vir motorfietse, vierwiel-motorfietse en side-by-side’s. Hierdie baan is ook in die nuwe deel van die terrein oorkant die saadplotte geleë.
Jonk en oud skou
Nog ’n eerste by Nampo vanjaar is die internsaionale afslaerkompetisie, wat by die veilingskompleks plaasvind. Die jeugskou vind ook daagliks in die perde- en beesarena plaas “waartydens die jongspan hul vernuf toon deur te werk met miniatuurperde, Limousin- en Brahman-beeste”.
Vanjaar se vee-afdeling bied 10 skaap, vier bok- en 28 beesrasse, en die Saalperdgenootskap en Arabierperdtelersgenootskap neem ook deel. Fries- en miniatuurperde sal ook hul verskyning maak. Die Boerepatentkompetisie sal ook, soos elke jaar, ongetwyfeld baie aandag lok.
“Graan SA wil verseker dat Nampo die landbousektor se mees relevante platform en markplek vir innovasie, tegnologie, inligtinguitruiling en gesprekvoering is. Die uitbreidings en vernuwings, ons 2017-tema, ‘Ontvou die toekoms’ en 'n splinternuwe Nampo-logo bevestig dat die organisasie positief is oor die rol van die Oesdag in die toekoms van die landbou,” sê mnr. Toit Wessels, assistent-bestuurder: Nampo en Bemarking van Graan SA.