Die datums van die Nampo-Oesdag sal nie vanjaar verander word weens die munisipale verkiesing wat in dié week sal plaasvind nie.
Graan SA sê in ’n verklaring ten tye van gerugte dat die verkiesingsdatum in dié week sal val, die meerderheid uitstallers is reeds bevestig en die meeste reëlings reeds afgehandel. Dit maak die skuif van die Oesdag-datums onmoontlik.
Me. Marna van Jaarsveld, woordvoerder vir Graan SA, sê reëlings word reeds in Oktober van die vorige jaar met die meeste uitstallers bevestig. Die Oesdag-datum is ’n vasgestelde datum, wat elke jaar in die 20ste week van die jaar val.
Stembusse
Van Jaarsveld sê hulle het navraag gedoen oor die moontlikheid om stempunte by die Oesdag te hê, maar omdat kiesers in hul wyke moet stem, sal dit nie moontlik wees om enige stempunte by die Oesdag te hê nie.
Die voorafgaande stemdatums van 16 en 17 Mei is slegs as stemdae vir nooddienspersoneel gereserveer. Die publiek sal nie op dié dae kan stem nie. Graan SA sê die feit dat stembusse van 07:00 tot 21:00 oop sal wees, sal besoekers in staat stel om te stem voor of ná hulle die Oesdag besoek het.
“Graan SA vra om verskoning vir enige ongerief en moedig kiesers aan om so ver moontlik aan die verkiesing deel te neem”, lui die verklaring.
Die Nampo-oesdag vind vanjaar van 17 tot 20 Mei op Nampo-park naby Bothaville plaas.
8 Maart 2011