
Volgens Besigheidseenheid Suid-Afrika (Busa) is dít nie wat die private sektor en die Regering ooreengekom het nie. “Dit blyk daar is ‘n verwysingsfout.”
Tans word meer duidelikheid daaroor vereis.
Busa sê ’n ander klousule van die Wet op die Nasionale Minimumloon (Wet 9 van 2018) moes verander word. Dié verandering moes aandui dat dit onregverdige arbeidspraktyk is vir werkgewers om lone, werksure of ander voorwaardes van indiensneming met betrekking tot die instelling van die minimum loon terugwerkend te verander.
Mnr. Theo Boshoff, bestuurder van regsintelligensie by die landbousakekamer Agbiz, sê hulle het landboubesighede oor die fout ingelig en sal so spoedig moontlik meer inligting weergee sodra Busa meer kan uitvind oor hoe die kwessie reggestel gaan word. “Dit lyk wel of dit ’n bona fide fout was. Daar is geen rede om te dink dat die Departement van Arbeid dit nie sal regstel nie.”
Die Parlement se portefeuljekomitee oor arbeid het aangedui dat hy die fout sal regstel sodra parlementslede terug in die tuig is.
Die nasionale minimum loon sal vanaf 1 Januarie 2019 R20 per uur beloop. ’n Spesiale infaseringstydperk is aan die landbou toegestaan. Gevolglik is die nasionale minimum loon vir dié sektor in die eerste jaar R18 per uur.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.