
Dit sal eers geskied ná die afhandeling van die parlementêre prosesse.
Me. Mildred Oliphant, Minister van Arbeid, het aangekondig die ambisies om die Wetsontwerp op die Nasionale Minimumloon, wat ’n basiese loon voorstel van R20 per uur nie van krag kan word nie weens die groot hoeveelheid geskrewe en mondelinge voorleggings van belanghebbendes wat by die Nasionale Vergadering ingedien is. Kragtens dié bepaling mag niemand in die land minder as dit verdien nie.
Die Grondwethof het al die Parlement oor die vingers getik oor wetgewing wat hy deurgevoer het sonder om behoorlik openbare verhore te hou. In 2016 het die Grondwethof die gewysigde Wet op die Herstel van Grondregte (Wet 15 van 2014), wat die grondeiseproses vir ’n tydperk van vyf jaar moes heropen, as ongeldig verklaar weens ’n tekort aan openbare verhore.
Oliphant het gesê die uitvoerende gesag mag nie met die parlementêre prosesse inmeng nie en moet aanvaar en toelaat dat die proses sy gang gaan. Sy het reeds pres. Cyril Ramaphosa ingelig dat die loon nie teen 1 Mei van krag sal wees nie. Ramaphosa, toe hy adjunkpresident was, het die ondersoekproses gelei na so ’n loon vir die land, wat moet poog om armoedsvlakke en ongelykheid te verminder.
Die landbousektor sal vanjaar twee loonverhogings ervaar met die jongste sektorale vasstelling vir plaaswerkerlone wat op 1 Maart in werking tree en die land se eerste nasionale minimumloon wat waarskynlik op 1 Mei in werking gaan tree.
Onsekerheid oor moontlike nuwe datum
Wanneer die mimimuloon van krag sal wees, hang geheel en al af van hoe lank die parlementêre proses gaan duur. Gegewe dat die Parlement op Dinsdag 27 Maart sy laaste sitting gehad het en sy volgende sitting eers einde April plaasvind, sal dit nie moontlik wees vir die Nasionale Vergadering en die Nasionale Raad vir Provinsies om hul proses van openbare verhore voor 1 Mei te voltooi nie. Boonop moet daar in albei huise vir die wetgewing gestem word, waarna dit nog eers na die President vir ondertekening gestuur moet word.
Oliphant het gesê die Regering se ambisies om die wetgewing op 1 Mei in werking te stel, het nog altyd afgehang van die afhandeling van die parlementêre prosesse. Sy wou nie spekuleer oor ’n moontlike nuwe datum vir die inwerkingstelling daarvan nie.
Maar volgens die selfopgestelde tydlyn van die vakverbond Cosatu kan die Nasionale Vergadering reeds teen 26 April sy werk voltooi en die Nasionale Raad vir Provinsies sal sy werk gedurende Mei voltooi. “Ons is vol vertroue dat die nasionale minimumloon in Junie in werking gestel sal word,” het mnr. Matthew Parks, parlementêre koördineerder van Cosatu, gesê.
Asemskep vir boere
Met die sektorale aanpassing van 5,7% vir die landbou wat 1 Maart in werking getree het, kry boere ekstra tyd vir asemskep, aangesien die instelling van die minimumloon die loonrekening vanaf 1 Mei vir ’n tweede keer sou verhoog het. Die sektorale aanpassing kom tans neer op R3 169,90 per maand, wat R731,41 per week en R16,25 per uur is.
Indien die nasionale minimumloon vanjaar nog in werking tree, sal die sektor se minimumloon 90% of R18 van die R20 per uur moet wees. Die maandelikse loon sal dan R3 150 per maand wees.