
Pres. Cyril Ramaphosa het vanaand aangekondig die beste manier om die kragkrisis so gou as moontlik op te los, is om weer 'n nasionale ramptoestand af te kondig. Hy het ook genoem daar sal 'n minister van elektrisiteit aangestel word wat "dag en nag" net daarop sal fokus om die krisis te bestuur. Hy het egter nie aangekondig wie die minister gaan wees nie.
"Buitengewone omstandighede vra wel om buitengewone maatreëls." Ramaphosa het gesê die energiekrisis is ’n “eksistensiële bedreiging” vir die land se ekonomie.
Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, het reeds die afkondiging van die ramptoestand in die Staatskoerant gepubliseer.
Ramaphosa het gesê hospitale en wateraanlegte sal onder meer van beurtkrag kwytgeskeld word. Hy het niks oor die landbousektor in dié verband in sy toespraak gesê nie.
Klik hier om die dokument te lees.
* In reaksie op die aankondiging het Eskom gesê hy sal eers die aankondiging van die ramptoestand in die Staatskoerant moet bestudeer voor hy verder kan kommentaar lewer. "Eskom kan ook nie kommentaar lewer op beleidsbesluite, soos die stigting van ’n regeringsdepartement vir elektrisiteit, nie."
* Klik hier vir nog inligting uit Ramaphosa se toespraak.
Die VF Plus en DA het Ramaphosa luidens verklarings heftig gekritiseer oor die afkondiging van 'n nasionale ramptoestand, veral weens die verskeie ondersoeke na wanbestuur van fondse tydens die ramptoestand wat weens die covid-pandemie se inperking gegeld het. Die DA het ook bevestig dat dié party reeds sy regsverteenwoordigers opdrag gegee het om die afkondiging in 'n hof uit te daag.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.