
Die T20-taakmag, waarby die bekende Stellenbosse landbou-ekonoom prof. Nick Vink ingesluit is, is ’n netwerk van dinkskrums uit die G20-lande. Die taakmag meen nuwe beleid oor volhoubare water- en grondgebruik is nodig as voedselsekerheid vir almal bewerkstellig wil word.
Landbouministers sou van 20 tot 22 Januarie in Berlyn bymekaarkom vir die Groen Week. In ’n beleidsvoorstel wat die T20 daarvoor voorberei het, beklemtoon hulle hoe belangrik dit is dat grond, water en energie nie in afsondering van mekaar beskou moet word nie. Grond- en watergebruik is in baie streke van die wêreld, ook die G20-lande, nie volhoubaar nie.
Mensewelstand
“Hoewel daar vooruitgang gemaak word om honger in die wêreld te verminder, is daar steeds 800 miljoen mense wat deur honger in die gesig gestaar word. Sowat ’n kwart van kinders word belemmer deur wanvoeding. Die situasie is die ergste in Afrika suid van die Sahara en Asië,” lui ’n mediaverklaring. Die T20-groep meen beleid oor hulpbronne, soos grond en water, moet op menslike welstand gerig wees.
“G20-regerings moet seker maak dat stelsels in werking is om grondagteruitgang en waterstres te meet sodat die dringendste probleme geïdentifiseer en aangeroer kan word,” sê mnr. Homi Kharas van die groep denkers Brookings in die verklaring.