
Nee wat. Strawwe drinkers het hulle nie laat afsit deur Suid-Afrikaanse wetgewing wat drankverkope tydens die streng grendeltyd verbied het nie. Hulle het eerder meer gereeld ietsie geniet en het nie geskroom om onwettig hul drankkabinette te vul nie.
Dis volgens ’n opname wat van Julie tot November 2020 via Facebook geadministreer is, en waaraan 798 Suid-Afrikaners (68% vroue) vrywillig deelgeneem het.
Inligting daaroor het pas in die vaktydskrif International Journal of Environmental Research and Public Health verskyn. Navorsers van die universiteite van Wes-Kaapland, Stellenbosch en Kaapstad, en die Mediese Navorsingsraad (MNR) het daaraan meegewerk.
Volgens die opname kan tot 50% van die respondente as strawwe, gereelde drinkers beskou word. Dié groep het erken dat hulle meer as gewoonlik gedurende die eerste maande van die grendeltyd gedrink het. Hulle het dit toegeskryf aan spanning, verveling of die behoefte aan ontspanning.
Sowat 66% van hulle was jonger as 55 jaar oud. Sowat 76% in dié groep het onwettige aankope gemaak, al het die inkomste van 70% van hulle weens die covid-19-pandemie gekrimp. Hulle het ook sommer goed partytjie saam met vriende gehou elke keer dat inperkingsregulasies verslap is.
Bitter min strawwe drinkers het enigsins gereken dat die alkoholverbod ’n aansporing was wat hul alkoholinname sou kon beperk.
Aan die ander kant het heelwat meer matige alkoholgebruikers gesê hulle het minder as gewoonlik gedrink gedurende swaar en matige grendeltye. Dit was deels omdat hulle nie so maklik by drankwinkels kon uitkom nie, en ook nie kon sosialiseer of ’n kroeg kon besoek nie.
Meer vroue het gesê dat die covid-19-regulasies dinge moeiliker gemaak het vir hulle om minder te drink.
Deelnemende mans het meer geredelik as vroue alkohol onwettig aangekoop. Vir die meeste vroue wat dit gedoen het, was dit glo hul eerste keer.
In die opname is ook gevra wat deelnemers sou doen as hul voggies duurder raak. Volgens die navorsingspan wys dié reaksie dat spesifieke beleide wat alkoholpryse kan laat styg dalk die enigste manier is om gedurende krisistye drankgebruik te verminder. Dis ’n strategie wat die Wêreldgesondheidsorganisasie byvoorbeeld voorstaan, deur hoër aksynsbelasting en minimum eenheidspryse.
“Volgens ons navorsing werk dit nie om die alkoholinname van strawwe, episodiese drinkers te probeer verminder deur verkope daarvan te beperk of te verbied nie. Aan die ander kant kan matige drankgebruikers hierby baat gevind omdat hulle dit as ’n aansporing kan gebruik om minder alkohol te gebruik,” sê die hoofskrywer, dr. Marieke Theron van die Universiteit van Wes-Kaapland, en haar medeskrywers.
Die opname is oorspronklik deur die Massey-universiteit in Australië ontwikkel, en daarna vir plaaslike gebruik aangepas deur die MNR met die samewerking van die internasionale alkoholkontrolestudiegroep.