
'n Student aan die Universiteit Stellenbosch het ontdek hoe veekundige navorsers met slim proefnemings boere kan help om die beste uit hul kuddes te kry. Dit het Lobke Steyn 'n nasionale medalje in die sak gebring as ontvanger van die Junior Kaptein Scott-medalje van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.
Dié cum laude-student het die medalje ontvang vir die beste MSc-verhandeling in veekundige wetenskappe wat landwyd deur 'n universiteitstudent gelewer is. In haar tesis, getitel “Supplementation of a high fibre concentrate to Jersey cows on pasture”, het sy gekyk na alternatiewe veselryke voer wat veral in die winter as byvoeding vir Jerseykoeie gegee kan word. Die meeste van haar navorsing het sy op die Outenikwa-navorsingstasie van die Wes-Kaapse departement van landbou op George gedoen, waar die Jerseykoeie permanent op aangeplante weidings aangehou word. Soggens en saans word hulle in die melkportaal gemelk, en kry dan sommer ook hul kragvoer net na melking.
Kikoejoe, oorgesaai met raaigras, is die mees algemene weidingtipe waarop beeste in die Suid-Kaap aangehou word. In die wintermaande groei kikoejoe egter nie, terwyl die groeitempo van raaigras baie laag is. Dit veroorsaak dikwels ’n tekort aan ruvoer, wat dan aangevul moet word met, onder meer, lusernhooi. Die prys daarvan in die Wes-Kaap kan egter taamlik hoog wees, en dus sny dit die winsgrense van weidinggebaseerde melkproduksie.
Steyn het haar visier daarop gestel om winsgewender en doeltreffende hoëvesel-kragvoere te identifiseer om die probleem van genoeg winter-ruvoer te oorkom. So het haar oog geval op veselryke graanneweprodukte wat as aanvulling gegee kan word saam met sappige winter- en lenteweidings.
Een wetenskaplike artikel oor haar navorsing het reeds in die internasionale vaktydskrif Animal Feed Science and Technology verskyn. Steyn is nou besig met navorsing vir haar doktorsgraad en dié keer kyk sy na watter byvoere boere winsgewend én doeltreffend kan gebruik as aanvullings vir hul melkkoeie waarmee daar in intensiewe weidingstelsels geboer word.
“Boere wil nie noodwendig so afhanklik van mielies wees as aanvullings vir melkkoeie nie,
meen Steyn, wat besig is om die moontlikhede rondom die gebruik van sitruspulp, ’n uitskotproduk van die sitrusbedryf en melasse, 'n neweproduk van die suikerbedryf, te ondersoek.