
Dié stapelgeenkultivar, MON 87460 x MON 89034 x NK 603 is geneties gemodifiseer, droogteverdraagsaam en bied beskerming teen insekte.
Die uitvoerende raad van die Wet op Geneties Gemodifiseer Organismes het op ‘n vergadering op 2 Oktober geweier om dié kultivar vir kommersiële verbouing goed te keur. Die raad het bevind die data wat deur Monsanto verskaf is, nie voldoende is om die droogteverdraagsame en insekweerstandige eienskappe te bewys waarop die maatskappy aanspraak maak nie.
Die proewe oor droogteverdraagsaamheid, wat van 2014 tot 2018 deur Monsanto by Hopetown, Orania, Lutzville en Malelane gedoen is, het onvoldoende bewyse opgelewer, volgens die uitvoerende raad.
“Die pittelling per ry en per stronk het geen statisties beduidende verskil tussen die GM mielies en konvensionele mielies getoon nie,” luidens ‘n verklaring wat op 15 November deur die ACB uitgereik is.
Verder het die raad bevind dat die opbrengsvoordele wat met die GM mielies vereenselwig word, nie oral dieselfde was nie. In sommige proewe het die GM mielies ‘n laer opbrengs as die gewone mielies getoon.
Daar is ook bevind dat die data wat Monsanto oor insekweerstandigheid aangebied het, onvoldoende was. Luidens die ACB se verklaring is van net een proefterrein ingesamel en ook net vir ’n beperkte aantal produksiejare.
“Die ACB het Monsanto se projek vir droogtebestande mielies en die egtheid van die maatskappy se aansprake die afgelope 10 jaar deurlopend ernstig bevraagteken,” sê me. Mariam Mayet, uitvoerende direkteur van dié GM waghond.
Appél
Monsanto is deur die Water Efficient Maize for Africa-projek (Wema) saam met die Bill en Melinda Gates-stigting en ander vennote betrokke by die ontwikkeling van droogtebestande, GM mielies vir kleinboere in vyf Afrika-lande, waaronder Suid-Afrika.
Op sy beurt sê Monsanto, wat nou deur Bayer besit word, dat hy vertroue in sy tegnologie het en glo dit kan ‘n betekenisvolle rol speel in voedselproduksie in Suid-Afrika en wêreldwyd.
“Monsanto Suid-Afrika het ‘n aansoek vir ‘n algehele vrystellingspermit vir MON 8740 x MON 89034 x NK603-mielies in Suid-Afrika in 2017 ingedien. Ons het amptelike kommunikasie van die kantoor van die registrateur ontvang dat dié aansoek nie goedgekeur is nie. Ingevolge artikel 199(1) van die wet, saamgelees met artikel 11(a), het Bayer Crop Science appèl by die Minister van Landbou, Bosbou en Visserye teen die besluit van die uitvoerende raad aangeteken,” sê me. Magda Du Toit, korporatiewe skakelhoof van Bayer SA.
“Die tegnologie is al ’n paar jaar lank kommersieel beskikbaar vir boere in Amerika. Dit het doeltreffende bekamping van onkruid en plae verskaf, terwyl dit ook die plant in staat gestel het om waterverwante druk te weerstaan,” sê Du Toit.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.