
Die konflik tussen van die navorsers en lektore by die Landboukollege Grootfontein en die vakbond Nehawu is op die spits gedryf met Nehawu-lede wat weier om enige werk te doen wat betrekking het op die kollege se miniplase en trustdiere.
Volgens mnr. Philemon Ngala, senior landbouwetenskaplike en taksekretaris van Nehawu, is die vakbond bekommerd oor hoe die trusts en vee by Grootfontein bestuur word.
Die trusts en die vee wat daaraan behoort is deur verskeie rolspelers in die bedryf geskenk ten bate van navorsing en vir die opleiding van studente. Nehawu beweer die opbrengs van die trusts word vir persoonlike gebruik aangewend.
Taakspan bekyk die bewerings
’n Taakspan van die Departement Landbou, Bosbou en Visserye ondersoek sedert verlede jaar dié bewerings, maar het nog nie 'n bevinding gemaak nie.
"Dit gaan nou meer oor sakedoeleindes as om kwaliteit onderrig aan studente aan te bied. Persoonlike belange speel 'n rol. Hier is geen duidelike prosedure oor die besluitnemings- en goedkeuringsproses nie," sê Ngala.
Nehawu beweer ook individue by die kollege, en nie trustees nie, besluit wanneer, hoe en aan wie hulle diere verkoop.
"Die miniplase is veronderstel om aan studente die geleentheid te bied om te oefen of hul kennis toe te pas in 'n landbousituasie. Hulle is nie daar om 'n geleentheid aan dosente te gee om te boer nie."
Grootfontein se bestuur
Nehawu het sy steun vir die taakspan, wat bewerings moet ondersoek, uitgespreek en het Grootfontein-bestuur gevra om sy samewerking te bied.
Die taakspan het beslis dat geen diere van die hand gesit mag word nie, behalwe surplusdiere onderhewig aan goedkeuring van mnr. Tino Herselman, direkteur van Grootfontein.
Intussen is die jaarlikse Dohnemerino-veiling by die kollege, wat aanvanklik gekanselleer is, geskeduleer vir Vrydag (24 Februarie). Nehawu het op 23 Februarie deur middel van 'n e-pos laat blyk sy lede beplan om by die veiling protes aan te teken.
Herselman het navrae rakende die situasie na die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye verwys. Die departement was ten tyde van Landbou.com se navrae nie beskikbaar vir kommentaar nie.