
Enige prysverhoging in elektrisiteitskoste wat die inflasiekoers oorskry, is onaanvaarbaar en Suid-Afrikaners kan dit eenvoudig nie bekostig nie. Dít was die boodskap van landbou-, gemeenskap,- en omgewingsorganisasies tydens ’n aanlyn sitting van die nasionale energiereguleerder (Nersa) oor Eskom se aansoek om ’n tariefverhoging.
Eskom vra vir ’n verhoging van 32% vir die volgende twee jaar en dan weer byna 10% in 2025. Die maatskappy sê dié groot verhoging is nodig om sy boeke te laat klop nadat die pryse van olie en gas – waarvan Eskom nou al hoe meer gebruik – skerp gestyg het.
Eskom sê duurder diesel dwing hom ook om meer vir elektrisiteit te vra en voer aan dat selfs hernieubare energie nou duurder is in die lig van die wêreldwye energiekrisis.
Voedselproduksie, werkgeleenthede
In sy kommentaar tydens die sitting het Vrystaat Landbou se dr. Jack Armour daarop gewys dat so ’n prysverhoging ’n enorme impak op voedselproduksie en bekostigbaarheid sal hê.
Dit sal ook baie moeilik wees vir die landbou- en ander sektore om onder sulke omstandighede werkgeleenthede te skep.
Vrystaat Landbou se voorlegging aan Nersa wys ook op ’n vroeëre waarskuwing van die buro vir voedsel- en landboubeleid (BFAP) dat onbetroubare kraglewering die handelsrisiko vir Suid-Afrikaanse produsente en uitvoerders vererger en dat die situasie by Eskom toenemend enige kans op ekonomiese groei aan bande lê.
Vrystaat Landbou dring ook aan op die oorskakeling van steenkool na hernieubare energie omdat die gevolge van aardverwarming die landbousektor toenemend beïnvloed.
Die organisasie sê rompslomp moet uit die weg geruim word sodat Suid-Afrikaners alternatiewe energie tot die netwerk kan bydra.
Mnr. Burton Jaganathan van die nieregeringsorganisasie Right2Know het volgens Netwerk24 gesê Eskom het hom uit die mark geprys. Hy meen die maatskappy moet geld bespaar deur bonusse te sny. Die regering kan ook geld bespaar deur van adjunkministers en ministeriële woordvoerders ontslae te raak. “Laat hulle vir hulself praat.”
Uit die burgerlike samelewing het mnr. Vusani Zweni, wat namens arm mense in Durban gepraat het, gesê arm mense dra swaar aan die ekonomiese gevolge van die covid-19-pandemie, die plundery in KwaZulu-Natal en Gauteng verlede jaar en toe die vloede in April. Selfs die styging in brandstofpryse ná die Russiese inval in Oekraïne raak armes se sakke en hulle kan nie duurder elektrisiteit bekostig nie.
Business Day het berig dat die Nersa-sittings nie goed bygewoon is nie, deels omdat baie mense vanweë fase 5-beurtkrag by tye nie kon inskakel nie.
Dit is ook ironies, sê dié publikasie in sy redakteursbrief, dat Eskom se eie ondoeltreffendheid tot besighede se finansiële agteruitgang en ondergang lei tot op die punt waar hulle nie prysverhogings kan bekostig nie.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.