
Die gesaghebbende Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) se vooruitskouing vir 2017-2026 is strak — die landbousektor se ongekende groei van die afgelope twee dekades is verby. Die data wys dat die supersiklus vir kommoditeite verby is (sien grafiek hieronder). Wat nou wag, is ’n konsolidasiefase wat die werklike vlak van die sektor se mededingendheid en volhoubaarheid op die wêreldverhoog deeglik gaan toets.
Die BFAP-verslag, ’n jaarlikse gesamentlike projek van onder meer die universiteite van Pretoria en Stellenbosch, die Wes-Kaapse departement van landbou en meer as 40 medewerkers, is pas bekend gestel.
Volgens die verslag gaan faktore, soos produktiwiteit, skaalekonomie, toegang tot die beste tegnologie, finansiering, inligting en toegang tot markte meer tel as ooit tevore. Diegene wat nie volle toegang tot hierdie ondersteuningsdienste het nie, sal waarskynlik nie oorleef nie – ongeag of hulle kommersiële, ontwikkelende of kleinboere is. Dieselfde geld ook landboubesighede in die waardeketting.
SA kry minste subsidiesDie BFAP sê Suid-Afrika tel onder die vyf lande ter wêreld met die laagste subsidievlakke. “Om die doelwitte van die Nasionale Ontwikkelingsplan te haal, is eenvoudig nie moontlik in só ’n omgewing nie.”
Die rede vir die verwagte min groei is ’n groot oormaat graan en oliesade in die wêreld, met internasionale pryse wat al die afgelope twee jaar by ’n tienjaarlaagtepunt gedraai het. Die invloed daarvan is nie in Suid-Afrika gevoel nie weens die kleiner plaaslike oeste en ’n swakker rand.
Weens vanjaar se rekordoeste en sterker rand het Suid-Afrikaanse pryse na uitvoerpariteit beweeg. Graanboere verkeer onder geweldige druk weens die gevolge van lae pryse op hul kontantvloei en skuldposisies.
Meer as een seisoenDie BFAP glo meer as een seisoen sal nodig wees om in die somerreëngebied van die gevolge van die droogte te herstel. Dit geld ook die veesektor, waar kuddes herbou moet word en die gehalte van weidings tyd neem om te herstel.
Intensiewe veebedrywe, soos die hoender-, vark-, en melkbedryf, kry egter die geleentheid om in ’n mate te herstel ná die hoë graanpryse voor vanjaar.
Ook goeie nuus vir die vleisbedryf is dat die uitvoer van beesvleis konstant gegroei het en dat Suid-Afrika oor die afgelope vyf jaar ’n netto uitvoerder geword het. Lams- en wolpryse het ook skerp gestyg ná die droogte.
Situasie benardIn die Wes-Kaap is die situasie weens die droogte benard. Daar sal verreikende langtermyngevolge wees weens waterbeperkings en beskikbare besproeiingswater vir uitvoerbedrywe. Alle bedrywe daar hou asem op oor die reënval vir die seisoen.
Hoewel daar oor die afgelope dekade aansienlike groei in bedrywe vir tuinbougewasse was, is die verwagting dat dié groei baie gaan afneem, minstens tot die beskikbaarheid van water weer normaal is.
Wat voedselpryse betref, het die droogte ’n groot invloed op die bekostigbaarheid van stapelvoedsel gehad. Die koste van ’n porsie mieliemeel het met 43% gestyg en die koste van ’n mandjie met basiese stapelvoedsel met 22%. Die verwagting is egter dat voedselprysinflasie nou met 16% sal daal as gevolg van die beter weerstoestande.
Gaan beleggings vergDie BFAP waarsku dat oorlewing en groei in die landboubedryf aansienlike openbare en private beleggings gaan verg. Wat steun uit die openbare sektor betref, sal besteding aan waterinfrastruktuur, steun aan boere en opleiding bo-aan die voorranglys moet wees. Vir ander beleggings hang dit af of mense glo die bedryf sal weer in die toekoms groei – iets wat deur politieke onsekerheid belemmer word.
Die gevolge vir grondhervorming en die ontwikkelende landbou is verreikend. Die hele sektor moet realistiese doelwitte en planne daarstel en saamwerk om dit te verwesenlik. ’n Gefragmenteerde, ideologies gedrewe en ongekoördineerde benadering sal misluk. Ontwikkelende boere moet eienaarskap van die grond hê om toegang tot finansiering te kry en uit te brei.
Drome wat nie hierdie werklikhede in ag neem nie, sal net drome bly, aldus die BFAP.
Hou komende uitgawes van Landbouweekblad dop vir die BFAP se vooruitskouings vir spesifieke bedrywe.