‘n Uitbreking van Newcastle-siekte is in Noordwes bevestig en vyf boere het reeds sowat 140 hoenders verloor, sê die provinsiale departement van landbou en landelike ontwikkeling.
Luidens ‘n verklaring kom die uitbreking in die Groter Taung-munisipaliteit in die Dr. Ruth Segomotisi munisipale distrik voor.
Vyf boere van die Pudimoe-informele nedersetting het sowat 140 hoenders verloor, terwyl sowat 25 vrektes binne die kwessie van ‘n week in die Leshobo-informele nedersetting aangeteken is. Monsters van dié karkasse wat getoets is, is aangetoon dat al die hoenders Newcastle-siekte onder lede gehad het.
Laat aanmelding
Mnr. Boitumelo Tshwene, LUR vir Landbou, is glo onsteld oor die laat aanmelding van die vrektes, want dit is uiters belangrik dat boere sulke gevalle onmiddellik moet aanmeld. “Daar is egter geen rede vir paniek onder die provinsie se hoenderboere nie, want die uitbreking is onder beheer en alle beweging van hoenders en kalkoene in die geraakte gebiede is opgeskort.”
Dr. Langa Madyibi, staatsveearts, sê veeartse sal vanaf Vrydag, 9 Maart 2012, inentings teen die siekte in die omgewing onderneem.
Die siekte is oordraagbaar, veral as gesonde diere met siek diere se mis of liggaamsvloeistowwe in aanraking kom. Van die tekens van die siekte is ‘n gehoes, depressiwiteit, ‘n geknak van die kop of nek, groenkleurige diarree en skielike vrektes van hoenders. Enige voorkoms van die siekte moet onmiddellik by die staatsveearts aangemeld word sodat vinnig opgetree kan word.
Inwoners van Taung moet enige verdagte voorvalle van hoendervrektes onmiddellik by die staatsveearts by 053 994 2238 of 053 994 3826 aanmeld.
9 Maart 2012