
Volgens dr. Celestine Ayok, 'n Nigeriese veearts wat ook verskeie suiwelprojekte bestuur, begin die Nigeriese regering toenemend ingevoerde melkpoeier uit Europa belas en terselfdertyd die plaaslike bedryf se ontwikkeling ondersteun.
“Ons is gelukkig om 'n president (pres. Muhammadu Buhari) te hê wat 'n melkboer is,” het Ayok by die FarmBiz-konferensie oor agribesigheid in Afrika gesê. Daar is volgens hom 'n groot gaping tussen die vraag na suiwelprodukte en dit wat Nigerië self kan produseer.
Die meeste melkboere is bestaansboere, diere loop ver om te wei, rus nie in die koelte nie, en lewer min melk. Die regering het 'n program begin om diererasse te verbeter en diere is uit Suid-Afrika ingevoer.
Ayok sê spilpunte is ook uit SuidAfrika ingevoer. Enige kommersiële ontwikkeling sal volgens hom handaanhand met landelike boerderye moet wees. Hy raai ondernernemings aan om nie ten volle te meganiseer nie, om werkgeleenthede te behou.
Die mark is egter baie groot - teen 2050 kan die bevolking 433 miljoen mense sterk wees - en volgens Ayok is daar 'n hoogs ontwikkelde markstelsel. “Daar is vir Suid-Afrikaanse landbou groot geleenthede vir vennootskappe.”