
As jy boer, hoef jy nie noodwendig 'n groot boer te wees om ander meer te leer oor die landbou nie – veral nie noudat VIA se nuwe TV-reeks, Nisboere, die land vol gereis het om kykers te wys wat in die besighede van kleinskaalse en nisboerderye aangaan nie.
Die reeks, aangebied deur Laeveld Agrochem, sal blootstelling verleen aan innoverende landbou-entrepreneurs wat op klein stukkies grond boer. Kykers kan daarna uitsien om meer te leer van kommoditeite soos laventel, olywe, eksotiese sampioene, miniatuurperde en vele ander interessante boerderye.
Die besighede wat in elke episode besoek word, word gekies na gelang van 'n spesifieke tema. Die eerste episode se tema is smaak en reuk en dis hier waar mev. Ida Grijseels van Lavender SA inkom. Grijseels boer buite Pretoria met laventel. Agt jaar gelede het Ida en haar man, Martyn, geen kennis van boerdery gehad nie, en slegs een laventelplantjie.
Vandag besit hulle twee hektaar grond, en verskaf hulle landwyd 'n gemiddeld van 5 000 plante elke maand. Ida sê sy is baie opgewonde oor die reeks.
“Dis lekker om te sien wat kleinboere doen en nie net wat in grootskaalse boerderye gebeur nie,” sê sy.
“In die eerste episode vertel ons hoe ons besigheid ontstaan het, wat ons voor die boerdery gedoen het, hoe die besigheid behartig word en aan wie ons verskaf,” sê Grijseels.
Die program word deur Anrich Herbst, Chris de Clercq en dr. Simonia Magardie aangebied. Kykers kan vanaf 4 September op Maandae om 20:00 op VIA (kanaal 147 op DStv) inskakel.