
Die brande in die sowat 80 km tussen Kuruman en Daniëlskuil is steeds nie geblus nie en sedert Donderdagoggend toe dit begin het, werk brandbestryders, boere en vrywilligers onverpoosd om die vlamme te bestry en skade te probeer beperk.
Mnr. Willie Aucamp, DA-LP vir die Kalahari, sê dit versprei net vinniger en daar is dringend nóg hulp en hande nodig om die brande te bestry. “Dit woed ook tussen Kuruman en Hothazel, by Kathu, en in die weste het dit ook tot binne die weermag se opleidingsterrein by Lohatla gevorder.” Hy het versoek tot mnr. Bentley Vass, LUR vir korporatiewe regering en tradisionele sake in die provinsie, en me. Mase Manoppole, LUR vir landbou, gerig om dringend te help om lugsteun te bekom. Manoppole het onderneem om te kyk wat sy kan regkry.
Aucamp sê die brande het in presies dieselfde gebied as in 2021 uitgebreek en het ongekende skade aan duisende hektaar grond en vee aangerig.
“Ek het ook ’n versoek aan Manoppole gerig dat onmiddellike hulp verleen word aan die boere wat geraak is, sodra die brande bestry is. Daar is reeds baie diere dood maar daar is ook diere wat oorleef het en voer gaan benodig. Daar moet onmiddellik voer uit die voerbanke van die Noord-Kaap beskikbaar gestel word en ons versoek ook dat hierdie areas as rampgebiede verklaar word sodat ramphulpgeld onmiddellik beskikbaar gemaak kan word.”
Aucamp sê sodra die brand onder beheer is, sal hy ook die premier, dr. Zamani Saul, versoek om ’n provinsiale ramp te verklaar. “Om sulke verlammende verwoesting twee jaar agtereenvolgens te moet beleef, is ’n uiterste las op veral ons boere en dit sal van kardinale belang wees om te verseker dat ondersteuning onmiddellik aangewend word om diegene wat skade gely het, te ondersteun en om voer aan die oorlewende vee te verskaf.
“Vir nou het ons veral vliegtuie of helikopters nodig in die koppe-gedeeltes waar voertuie en brandbestryders nie maklik kan uitkom nie. Behalwe vir drie huise waarvan ek weet wat afgebrand het, is die skade ongelooflik. Ons gaan honderde duisende hektaar weiveld verloor. Daarby steek die wind op en dit maak die bestryding van die brande nog moeiliker.”
Mnr. Nicol Jansen, president van Agri Noord-Kaap, sê net in die Kuruman-omgewing is sowat 60 000 ha verwoes. Behalwe vir drie brande wat oor ’n groot gebied woed, is daar ook verskeie ander kleiner brande.
Hy sê daar was gister wel lugsteun vir vier ure maar dit was nie suksesvol om die vlamme te blus nie. Die poging is gefinansier deur die brandbeskermingsvereniging van Kuruman-Oos wat R100 000 ingesamel het.