
'n Organisasie wat huurarbeiders verteenwoordig, vra die Grondeisehof om mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, aan minagting van 'n hofbevel skuldig te bevind.
Die Association for Rural Advancement (Afra) het die aansoek in die Grondeisehof in Randburg gebring, tesame met 'n aansoek om 'n interdik teen Nkwinti.
Die aansoeke sal op 10 en 11 Oktober tesame met 'n ander voortslepende aansoek van Afra aangehoor word. In laasgenoemde vra Afra die hof om 'n spesiale meester aan te stel om toe te sien dat die departement sowat 20 000 grondeise van huurarbeiders, wat al 15 jaar oud is, af te handel.
In dié saak het regter Seena Yacoob op 17 Mei beslis die twee partye moet 'n memorandum van verstandhouding onderhandel en dat 'n forum onder meer gestig moet word vir nie-regeringsorganisasies wat huurarbeiders en plaasbewonders verteenwoordig.
Die Legal Resources Centre (LRC), wat Afra verteenwoordig, sê in 'n verklaring Nkwinti het met stappe begin om die forum te stig, sonder om Afra te nooi of met Afra of huurarbeiders te onderhandel soos wat die hofbevel bepaal.
Die onderhandelinge is daarom opgeskort en Afra se aansoek vir 'n spesiale meester duur weer voort.
Afra vra die hof om 'n interdik om Nkwinti te verbied om daarop aanspraak te maak dat sy stigting van die forum 'n nakoming van die 17 Mei-hofbevel is, en om hom weens sy optrede aan minagting van die bevel skuldig te bevind.