Nog twee verdagtes is in hegtenis geneem ná die wrede moord op mnr. André (Brood) van der Merwe van Ottosdal, wat geskiet en daarna agter sy gesteelde bakkie gesleep is.
Mnr. Daan van der Merwe, onder-voorsitter van Agri NW, sê die moontlikheid bestaan dat verdere inhegtenisnemings kan volg. “Die motief vir die moord is nog geensins duidelik nie en dit wil lyk of dit meer as net roofpoging is. Ons wil die polisie loof vir hulle flinke optrede tot dusver.”
Die oorledene was ’n afslaer en boer wat op sy eie gewoon het. Hy is verlede naweek geskiet en, terwyl hy vermoedelik nog gelewe het, vir meer as ’n kilometer agter sy bakkie gesleep voor hy nog twee keer geskiet is.
Drie verdagtes is kort daarna in hegtenis geneem en het gister in die hof verskyn. Hulle bly in aanhouding en sal op 10 Mei weer in die hof verskyn.
Mnr. André Botha, voorsitter van Agri SA se Landelike Veiligheidskomitee sê die flinke optrede van die boeregemeenskap en die polisie se ondersoekbeamptes van Lichtenburg het gelei tot die spoedige inhegtenisneming van die verdagtes.
Hy sê volgens inligting was die optrede van die polisie van Ottosdal wat die toneel besoek het onprofessioneel en het getuig van ‘n traak my nie-agtige houding. Sake wat in die verlede deur boere by die polisiekantoor aangemeld is, is klaarblyklik ook selde na behore ondersoek en opgelos.
Agri SA dring daarop aan dat die polisie se optrede na die moord ondersoek word asook hulle vermoë om die totale gemeenskap van Ottosdal van ‘n professionele diens te voorsien.
“Moordenaars soos dié is barbare wat met haat en wreedheid onskuldige boere teiken en vermoor. Die wyse waarop Van der Merwe se liggaam agter ‘n voertuig gesleep en vermink is, onderstreep hierdie mense se barbarisme. Wat het van medemenslikheid in Suid-Afrika geword as die samelewing moordenaars soos dié in hulle eie geledere verdra. Dit het nou tyd geword dat hierdie tipe mense permanent uit die samelewing verwyder word”.
4 Mei 2011