Altesaam 8770 grondeise is glo uitstaande, maar dié getal is egter hoër as wat twee jaar gelede aangekondig is, sê Agri SA.
Luidens ‘n berig in Pretoria News (8 Februarie) het mnr. Tele Maphoto, waarnemende hoof-grondeisekommissaris Dinsdag (7 Februarie 2012) gesê Mpumalanga is bo-aan die lys, met 2927 eise uitstaande.
Maphoto het lede van die parlement tydens ‘n vergadering van die Nasionale Vergadering se landelike ontwikkeling- en grondhervormingskomitee toegespreek. Volgens Maphoto is tot op datum sowat 76 506 eise afgehandel, maar dié syfer sluit ook eise in wat slegs gedeeltelik afgehandel is.
Volgens ‘n opname wat die departement gedoen het, is sowat 2110 eise in KwaZulu-Natal uitstaande. In die Wes-Kaap is 1787 eise nog nie afgehandel nie, terwyl dié getal in Limpopo op 765, in die Oos-Kaap op 639, en in Gauteng en Noordwes op 323 staan. Onderskeidelik 140 en 79 eise is steeds uitstaande in die Noord-Kaap en die Vrystaat. Die opname sal na verwagting teen Augustus afgehandel wees.
‘Lendelam en gebrekkig’
Mnr. Athol Trollip, die Demokratiese Alliansie se woordvoerder oor grondsake, het die verslag as “lendelam en gebrekkig” beskryf. “Dit is ‘n skande dat die komitee al vir 16 jaar bestaan dit al is waarmee hy vorendag kan kom.”
Trollip sê dit is kommerwekkend dat so baie grond tans onder grondeise lê en derhalwe dormant is en geen landbou- of ekonomiese werksaamhede daarop plaasvind nie.
Intussen sê dr. Theo de Jager, ondervoorsitter van Agri SA: “Dit is ontstellend om te hoor dat hier net nóg eise bygetel word. Voorverlede jaar het die departement aangekondig dat net oor die 70 000 eise afgehandel is, en dat sowat 4500 nog uitstaande was. Waar kom dié bykomende eise vandaan?”
Mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Grondhervorming en Grondsake, het verlede jaar op Agri SA se kongres aangekondig dat ‘n bykomende R2 miljard beskikbaar sou wees om die uitstaande eise af te handel.
“Nou hoor ons uit die departement se gange dat méér eise na bewering daarna aangegaan is, in plaas daarvan dat dié geld gebruik is om net uitstaande eise af te handel.
“En tussendeur dit alles deur praat ons nog nie eens van die groot aantal eise wat al vir jare in die howe vasgevang is nie,” aldus De Jager.
Hou Landbouweekblad dop vir meer inligting oor dié kwessie.
8 Februarie 2012