Sprake van energie-rantsoening vir groot elektrisiteitsverbruikers en skokkende hoë glyskaaltariewe wanneer toegekende kwotas oorskry word, is nie net meer gerugte nie, sê mnr. Roger Stones, Eskom-verteenwoordiger op Polokwane in Limpopo.
Stones het tydens die Levubu-boeredag gesê waar die normale gemiddelde elektrisiteitstarief tans sowat 55c per eenheid is, sal groot verbruikers volgens Eskom se beplande Energiebesparingskema (EBS) tariewe van tussen 30c en 40c sent per eenheid hoef te betaal.
Maar, dit sal slegs geld vir ’n toegekende kwota van byvoorbeeld 90% van só ’n besigheid se normale verbruik. Wanneer hierdie toegekende hoeveelheid egter gebruik is, tree ’n boete-tarief op ’n glyskaal in werking met ’n boonste punt wat selfs soveel as R9 per eenheid kan wees. Groot verbruikers sal byvoorbeeld drie verskillende keuses kan uitoefen wanneer oor kwotatoekennings besluit word.
Stones het boeredaggangers aangemoedig om ’n energieverbruik-ondersoek te laat doen om seker te maak dat energie op hul plase of in hul besighede doeltreffend gebruik word.
“Die kragonderbrekings wat in 2007 toegepas is, het die land se ekonomie glo R50 miljard gekos.
Suid-Afrikaners sal hulle elektrisiteitsverbruik eenvoudig met 10% moet inkort òf kragonderbrebrekings sal weer deel van die daaglikse lewe word,” waarsku Stones.
11 Oktober 2010