
Ramaphosa het sy staatsrede op 13 Februarie gelewer, maar die tariewe is nie in die daaropvolgende twee Vrydae in die Staatskoerant afgekondig nie.
Die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (SAPV) het in Desember 2018 by die kommissie vir internasionale handelsadministrasie aansoek gedoen dat die invoertariewe op stukke aan die been en beenlose stukke van onderskeidelik 37% en 12% tot 82% verhoog word.
Die FairPlay-teenstortingsbeweging het sy teleurstelling in die voortgesette vertraging in die afkondiging uitgespreek. Die tarief sal veral ’n uitwerking op ingevoerde Brasiliaanse hoendervleis hê.
FairPlay sê in ’n verklaring hy is bekommerd oor die implikasies van die vertraging op die Suid-Afrikaanse hoenderbedryf en sy werkers.
Ramaphosa het in sy staatsrede gesê die meesterplan vir die hoenderbedryf kan 54 000 werkgeleenthede beskerm, terwyl nuwes ook geskep sal word. Die plan is laat verlede jaar deur belanghebbendes onderteken en verwys daarna dat die bedryf deur hoër invoertariewe beskerm sal word.
“Die president moet net so teleurgesteld as ons wees dat die beloofde twee weke gekom en gegaan het en geen tariefaanpassing nog afgekondig is nie,” sê FairPlay.
“Dit is sekerlik vir kleinskaalse hoenderboere en pluimveewerkers rede tot kommer en ontsteltenis dat die beloofde tariefaanpassing om lewensbestaan en werkgeleenthede te ondersteun, nie in werking gestel word om die aanslag van roofsugtige invoer teen te werk nie.”
FairPlay sê hy hoop dat mnr. Ebrahim Patel, minister van handel, nywerheid en mededinging, vandeesweek in die debat oor sy departement se begrotingspos ’n einde aan die vertraging sal kan bring.