
Mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige, sê ’n koue front sal van môre tot Donderdag reën na dele van die Wes- en Oos-Kaap bring.
Voorspellings dui tans aan dat nog koue fronte van 26 tot 28 Augustus en in die eerste twee weke van September reën na die Wes-Kaap, maar veral na die Suid- en Oos-Kaap gaan bring. Reën kan in die eerste week van September ook voorkom oor die sentrale, maar veral die oostelike en suidoostelike binneland.
Sneeu en ryp
Die koue fronte volg ná redelike swaar sneeuneerslae sedert verlede week oor die oostelike dele van die Noord-Kaap en die noordelike dele van die Oos-Kaap, met ligte sneeuneerslae by Worcester in die Wes-Kaap en Golden Gate in die Oos-Vrystaat. Sneeu in Augustus is nie ongewoon nie aangesien dit koud genoeg is, terwyl daar reeds ’n mate van vog vanuit die trope of die Indiese Oseaan oor die land inbeweeg.
Van den Berg sê met die huidige stand van die Indiese Oseaan word vog direk weswaarts ingevoer met oostewinde. Koue fronte oor die suidelike dele van Suid-Afrika wat dan noordooswaarts oor die kusgebiede beweeg, is normaal vir dié tyd van die jaar.
Van die plekke wat die naweek goeie reënneerslae aangeteken het, sluit onder meer in Joubertina in die Langkloof met sowat 50 mm, van 30 mm tot 50 mm in die distrik Bloemfontein en van 20 mm tot 30 mm in die distrik Hanover in die Noord-Kaap.
Met die verdere koue fronte wat in die volgende vier weke verwag word, kan temperatuurdalings met ryp weer voorkom oor veral die sentrale tot suidelike dele van die Vrystaat, die Noord-Kaap, die Oos-Kaap en die Hoëveld van Mpumalanga. Dit geld veral die tydperk van 18 tot 22 Augustus en die laaste paar dae van Augustus. Die risiko vir rypskade word baie groot met gewasse wat begin bot en die gevoelige groeipunte van koring wat bo die grond begin uitsteek.
Van den Berg maan veral kleinveeboere om korttermynweervoorspellings in die komende weke dop te hou omdat koue, nat en winderige toestande ’n groot gevaar kan inhou vir kleinvee, veral as hulle geskeer is. Baie stormagtige toestande word oor veral die Oos-Kaap en aangrensende dele van die Tuinroete verwag in die volgende paar weke.
La Niña-stelsel
Op langer termyn begin die ontwikkeling van ’n La Niña-verskynsel al hoe waarskynliker raak. Tans is die kans 70% dat ’n swak tot matige La Niña-verskynsel vanaf ongeveer September en/of Oktober gaan begin voorkom, sê Van den Berg. Dit is die normale tyd van ontwikkeling vir El Niño- of La Niña-verskynsels en dit behoort ook dan aan te hou tot ongeveer die herfs van 2022. Verder is die veranderlikes van die Indiese Oseaan tans baie gunstig vir somerreën en dit kan ook ’n vroeër aanvang van somerreënval stimuleer.
Die kombinasie van ’n La Niña-verskynsel en ’n negatiewe fase van die Indiese Oseaan-dipool, soos wat tans aan die gang is of voorspel word, is baie gunstig vir somerreënval. Voorspellings dui tans aan dat die baie droë dele van die Oos-Kaap redelik goeie tot swaar neerslae in die lente en vroeë somer kan kry. Daar is ook ’n kans op baie swaar neerslae vanjaar wat tot oorstromings plek-plek kan lei, sê Van den Berg.