Nog ’n dieselprysstyging van 50c per liter, 54c om presies te wees, word in April verwag, sê ’n ekonoom. Mnr. Tony Twine, senior ekonoom van die Econometrix-groep, sê wat die petrolprys betref, verwag hy tans ’n styging van 43c per liter. Dié stygings is bereken op die data van 1 tot 15 Maart vanjaar.
Twine sê hoewel dié stygings verbruikers se sakke verder gaan platslaan, het dit teen Maandag (14 Maart) droewiger gelyk. Tóé het die petrolprysstyging op 47c per liter gestaan en diesel sou 58c per liter duurder gewees het. ’n Daling in die olieprys tot $110 per vat het die situasie wel verbeter.
Hy voorspel wel dat dié bedrae verder kan daal, veral nadat die olieprys Woensdag (16 Maart) tot $108 per vat gedaal het.
Japan kom tot ons redding
Ondanks die groot tragedie van die tsoenami wat Japan die afgelope week getref het, het dit volgens Twine wel ’n gunstige uitwerking op die hoë oliepryse gehad. Hy sê sedert die golf Japan op sy knieë gedwing het, het die internasionale olieprys (van Maandag 14 Maart tot Woensdag 16 Maart) van $115 tot $108 per vat gedaal.
“En dít sonder dat daar noodwendig verligting in die onluste in die Arabiese lande gekom het,” merk Twine op.
’n Verlaging op kort termyn
Vir die olieprys om op kort termyn te verlaag, is twee dinge nodig, aldus Twine. Die eerste is dat die koue winter in die Noordelike Halfrond moet opklaar, wat ’n gegewe is. Die tweede is dat die onluste in die Arabiese lande tot ’n einde moet kom – daarvoor is daar egter nog nie antwoorde nie.
Twine voorspel wel ’n gemiddelde internasionale olieprys van $110 per vat, wat kan wissel van $120 tot $90 per vat.
16 Maart 2011