
Buiten ’n roemryke akademiese loopbaan as voormalige hoof van die departement veeteelt aan die Universiteit Stellenbosch, waar talle gerekende voedingskundiges en veeboere onder hom gestudeer het, het hy ook later jare as direkteur-general van landbou ’n beduidende rol gespeel in Suid-Afrika se hertoetrede tot die internasionale landbou-arena. Dr. Pierre van Rooyen, een van sy voormalige studente en voormalige hoofbestuurder van SA Stamboek, onthou een van die landbou se heel grootstes.
Prof. FJ van der Merwe, algemeen bekend as Prof Frans onder sy talle oudstudente, was ’n boerseun van Calvinia. Nadat hy in 1945 gematrikuleer het, het hy die grade BScAgric, MScAgric (cum laude) en in 1957 die graad DScAgric in dierevoeding aan die Universiteit Stellenbosch verwerf. Hy is aangestel as dosent in dierevoeding en in 1965 as hoof van die departement veeteelt. In 1998 is hy deur die Universiteit van die Vrystaat met ’n eredoktoraat in die landbou vereer.
Prof Frans se navorsing tydens sy akademiese loopbaan, eers vroeër in sy eie nagraadse studie en later as studieleier in 46 meesters- en 10 doktorale studies, het ’n wye veld van dierevoeding gedek.
Verskeie rigtinggewende studies oor die mineraalbehoeftes van plaasdiere en veral spoorelementbehoeftes soos kobalttekorte in die rantsoene van skape in die kusgebiede, proteïenbehoeftes en -aanvulling, energiemetabolisme en strategiese voedingsbehoeftes, ruvoerbenutting en die praktiese toepassing daarvan, het onder sy leiding die lig gesien.
Sy uitgebreide navorsing het in 73 wetenskaplike en populêre publikasies verskyn, waarvoor hy verskeie internasionale erkennings ontvang het.
Prof Frans was nie net ’n voortreflike dosent wat met buitengewone insig in sy vakgebied respek afgedwing het nie, maar ook pedagoog in die volle sin van die woord. Die talle voedingskundiges van formaat in die akademie en die uitgebreide dierevoedingsbedryf, plaaslik sowel as internasionaal, en veeboere wat onder hom gestudeer het, sal almal daarvan getuig dat Prof Frans jou nie net in alle aspekte van die volledige dierevoedingsdissipline en die praktiese toepassing daarvan geskool het nie, maar ook geleer het hoe om ’n professioneel korrekte verhandeling of artikel te skryf.
Selfs in toetse en eksamens het hy geen spelfoute geduld nie. Netheid en dissipline was ononderhandelbaar, nie net in navorsingswerk nie, maar ook persoonlik. Niemand het sy klas sonder ’n das bygewoon nie!
Die boek Dierevoeding, beter bekend as Prof Frans se Blouboek, wat in 1970 verskyn het met drie hersiene uitgawes daarna, is ’n weergawe van sy dierevoedingslesings vir derde- en finalejaarstaudente. Hierdie boek pryk vandag nog as ’n praktiese vakkundige naslaanwerk in die boekrak van menige veeboer en professionele dierevoedingskundige.
Prof Frans was ook vir sy liefde vir perde bekend, veral die inheemse rasse soos die Nooitgedachters en Boerperde. Sy riglyne in perdevoeding is alombekend. Hierdie passie kon hy uitleef op Kleinmond by sy gesin se strandhuis waar hy ook later saam met sy eggenote, Elma, afgetree het. Hy was naamlik jare lank by die sogenoemde wilde perde van Kleinmond betrokke, ’n trop vrylopende perde in die kus-bergveld in die omgewing van Kleinmond.
Dit was nie verrassend nie dat sy roemryke akademiese loopbaan en uitnemende bestuursvermoë in 1982 tot sy aanstelling as hoofdirekteur van diereproduksie in die departement van landbou en daarna direkteur-generaal van landbou gelei het nie, ’n pos wat hy tot met sy aftrede in 1997 met onderskeiding in daardie moeilike oorgangstydperk beklee het. Hy het ’n beduidende rol in Suid-Afrika se hertoetrede tot die internasionale landbou-arena gespeel en was onder andere instrumenteel in die sensitiewe voorbereiding van die departement en die bedryf vir die eerste direkteur-generaal van die nuwe bedeling.
Die landbou in die algemeen en dierevoedingskundiges in die besonder eer Prof. Frans van der Merwe se nagedagtenis.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.