Nóg ’n dreigende voedselkrisis en groot hoeveelhede geld wat wêreldwyd in die landbou ingepomp word, is twee faktore wat veroorsaak dat ’n hele nuwe benadering tot die landbou nodig is, sê prof. Mohammad Karaan, dekaan van die fakulteit landbouwetenskappe by die Universiteit Stellenbosch.
Hy het op Agri SA se kongres gesê aan die ongunstige kant wil hy voorspel dat ’n groter en ernstiger voedselkrisis as dié van 2007 op die wêreld wag. Terselfdertyd word, aan die goeie kant, vir die eerste keer in 10 000 jaar meer geld in landbou ingepomp as wat daaruit gehaal word.
“Kwessies soos dié veroorsaak dat konvensionele wysheid nie genoeg is om planne vir die toekoms van die landbou te beraam nie. ’n Hoër hand is nodig om die rigting aan te dui.”
Karaan, ook ’n kommissaris van die Nasionale Beplanningskommissie, sê binne die kommissie worstel hulle met kwessies, soos die landbou se rol in die land, die probleme met grondhervorming, hoe die landbou werk kan skep, hoe ’n voedselkrisis afgeweer kan word en die staat se rol in die sektor. Die staat se rol is onder meer om markte en staatsinstellings doeltreffend te laat werk en aandag aan mislukkings te skenk.
Om die rol van die landbou te versterk, is die beleidsrigting wat nodig is onder meer om van die stigma ontslae te raak wat aan die landbou kleef, landelike gebiede op te hef en infrastruktuur te verbeter, tuislande se potensiaal beter te benut en na mense se verblyfregte daar om te sien, talent te ontwikkel en bestaanslandbou te subsidieer.
20 Oktober 2010