
Plase is oorstroom met slik en boere wat water uit die Wolwas- en Kromellenboogspruit vir hul vee gebruik, moet nou water aanry.
Intussen het Vrystaat Landbou (VL) R50 000 uit sy rampfonds aan die Jagersfontein-boerevereniging bewillig om te help met onmiddellike nood.
Volgens mnr. Albertus van Schalkwyk, voorsitter van die plaaslike boerevereniging, het Jagersfontein Developments, wat die myn bedryf, gesê hy sal boere vergoed vir hul verlies aan inkomste, maar intussen moet boere steeds hul lopende uitgawes betaal. Daarom is oorbruggingshulp nou baie nodig. Die plaaslike boerevereniging het volgens Van Schalkwyk ’n bestuurspan saamgestel om seker te maak die hulp wat aangebied word, voldoen aan die rampbehoeftes en dat dit die boere so vinnig moontlik bereik.
Maar hy het ook sy kommer uitgespreek omdat die myn se bedryfslisensie tydelik opgeskort is en dat dit die geldkraantjie vir opruiming kan opdroog. “Die myn moet steeds salarisse en lopende uitgawes betaal. Hierby kom nou die koste van die opruiming. Hoe vat jy ’n myn se lisensie weg en sê jy mag nou nie verder inkomste verdien nie, maar jy verwag steeds van hom om al die bykomende uitgawes van die ramp te dra? Hoe lank voor die myn bankrot verklaar word?”
Die breek van die slikdam het ook ’n ongunstige impak op landboubedrywighede in die omgewing gehad aangesien groot gedeeltes van landbougrond in die onmiddellike omgewing van Jagersfontein, wat ook weidingsgrond insluit, steeds deur die slik bedek word. Die onmiddellike behoefte is aan waterpype, krippe en ook watertenks.
Van Schalkwyk noem dat mnr. Dennis Louw, ’n boer in die omgewing van die ramp, meer as 190 stuks vee verloor het, asook van sy prima-weiding. “Dennis het regtig ’n behoefte aan veral korrels om die lammers te voer gegewe dat ’n groot area wat vir weiding gebruik is, tans deur die slik bedek word en talle ooie ook dood is.”
Lede van die publiek wat ’n bydrae aan die Jagersfontein-boere wil maak, kan VL se webtuiste (https://vrystaatlandbou.co.za/donate/) besoek of ’n e-pos rig aan info@vslandbou.co.za met opskrif “Jagersfontein”.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.